Volgende Woensdag is 11 Maart, ‘n sombere herinneringsdag aan die verwoesting van vier jaar gelede in Japan. As gevolg van die drie-dubbele rampgebeure van 11/3/2011, duur diep onsekerheid en worsteling vir ontelbare mense voort. Die pyn van allerlei verliese skeur steeds diep in menselewens in. Die letsels van lyding is nog oral duidelik sigbaar, ook in die omgewing, veral te midde nuwe berigte van radio-aktiewe besmetting.
Duisende mense woon nog in tydelike behuising, en die pas van herbouing bly stadig. “Ramp-geteisterde gebiede se inwoners voel afgeskeep deur die res van die land”, sê ‘n vrou uit daardie gebied die afgelope Sondag by ons gemeente. Maar vir baie – veral vir die handjievol Christene (1%) in Japan – het hierdie krisis ook ‘n geleentheid geword om op praktiese maniere die hoop van die evangelie te deel. Sommige mense het opnuut besef dat, al is hulle op die grond neergegooi, hulle nie vernietig is nie (2 Kor. 4:9). Kerke se dienswerk het inderdaad klein bakens van hoop geword. Juis as gevolg van die rampgebeure is Christene se teenwoordigheid dus nou meer sigbaar as ooit tevore.
In die eerste maande na die rampgebeure het Missie Japan ondersteuners groot bydraes gemaak tot die Rampfonds. Dit het ‘n konkrete verskil gemaak! Die fondse is hoofsaaklik aangewend om ondersteuners se omgee-uitreik te deel met ons broers en susters hier in Japan – Christene sowel as nie-Christene. Onder leiding van die Gereformeerde Kerk in Japan (RCJ) – ons jarelange vennoot – is twee ondersteuning-sentrums opgerig.
Een sentrum, genaamd Sakura House, word gekoördineer deur die RCJ Sendai-Oos gemeente. Die ander een in staan bekend as Nozomi Center. In albei sentrums werk ‘n handjievol vrywilligers steeds daagliks sy-aan-sy met inwoners van die plaaslike rampgebiede. Hulle meelewing met ramp-slagoffers se seer, frustrasie en verliese, bring stil-stil stukkies hoop. Hulle dien die omgewing se mense deur te luister na verhale van trauma rondom ‘n ete, of deur kampe en uitstappies aan te bied, saam groentetuine aan te lê, met kinders se skoolwerk te help ens. Maar hulle raak ook moeg en moedeloos, en daarom bly die ondersteuning van Christene regoor die wêreld broodnoodig vir hulle voortgaande betrokkenheid.