Copy
Welkom by September 2015 uitgawe van die Rooivleis Produsente Organisasie Nuusbrief 

Bek- en klouseer breek uit op die grens by Zimbabwe

Die nasionale RPO, die Dieregesondheidsforum en die Rooivleisbedryfsforum het onmiddelik in dringende gesprek met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye getree oor die hantering van ‘n uitbreking van bek- en klouseer op die grens met Zimbabwe.
Zimbabwe se departement van vee- en veterinêre dienste het die uitbreking van die siekte reeds by die internasionale organisasie vir dieregesondheid, die OIE, aangemeld. In dié stadium is infeksies tot die beheerde gebiede beperk. Weeklikse inspeksies van die betrokke gebiede en alle ander gebiede binne ‘n radius van 20 km gaan voort.
Nuwe uitbrekings van die siekte kom voor omdat diere binne die beheerde gebied en die aangrensende gebiede by kommunale tenke gedip word en ook toegelaat word om saam te wei en water te drink. Uitbrekings van die siekte in die Chiredz-distrik kom voor in die roetine-inentingsgebiede aangrensend aan die nasionale parke waar wild soos buffels saam met beeste wei en water drink. Roetine-inentings moes lankal in dié gebiede afgedwing word.
Die beskikbare entstowwe was nie voldoende om al die betrokke besmette gebiede te bedien nie en ‘n gebied van 10 km is rondom die besmette area afgesper om te verhoed dat dit na die noorde en weste van die land versprei. Die besmette gebiede is onder kwarantyn geplaas en geen beweging van diere word buite die voorgeskryfde besmette gebiede toegelaat nie. Beperkte beweging van vee word binne die besmette gebiede toegelaat vir toegang tot weiding en water sowel as direkte slagtings onder veterinêre toesig by sekere abattoirs.  Lees meer ...

Aktuele sake onder die soeklig

Verskeie aktuele aangeleenthede het onder die soeklig gekom tydens die laaste vergadering van die RPO se Uitvoerende Raad, wat in die Oos-Kaap plaasgevind het.
  • Rooivleisbedryfsforum
  • Transformasie
  • Klassifikasie
  • Veediefstal
  • Predasieforum
  • Maltakoors
  • Skaapvleis
  • Veevoere en -meng wetgewing
  • Die "Futures Market" werkswinkel
  • Invoere van buurlande
  • Minimumloon
  • Pluimvee-regulasies
  • Biologiese beheer
  • Diploma en Veeproduksie    
Lees meer ...

Skotse enstof kan help

‘n Skotse entstof teen snotsiekte kan in die behoefte op die plaaslike mark voorsien.
Plaaslike entstof teen snotsiekte kan al volgende jaar, ’n jaar vroeër as wat aanvanklik beplan is, op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar wees. Dit is omdat die geïsoleerde en verswakte snotsiekte-virus wat verlede jaar uit Skotland gebring is om ’n plaaslike entstof te ontwikkel, geneties so naby  aan die plaaslike virus is dat dit vir alle praktiese doeleindes as dieselfde beskou kan word.  Lees meer ...

Wesenlike korreksie in die huidemark gesien

Daar was oor die afgelope weke ‘n beduidende korreksie in die huidemark. Dié verlaging is ‘n direkte gevolg van ‘n wesenlike daling in die internasionale huidemark.
Die huidemark in Amerika het oor die afgelope weke gedaal. In essensie het Suid-Afrika van ‘n basisvlak van $95.5 in Week 12 tot $61.5 in Week 30 gedaal; ‘n verlaging van meer as 35%. Die vaste pryskoers het in dié periode amper gelyk gebly; 12.45 in Week 12 vergeleke met 12.65 tans (slegs ‘n  1.5% differensieel).
Weens die aansienlike korreksie is die plaaslike huidemark steeds besig om ‘n vlak te bepaal waarvolgens markte die Suid-Afrikaanse huidevolumes kan absorbeer. Hoewel die bedryf no nie daar is nie, word ‘n stabiele mark hopelik binnekort gesien. 
Huidige terugvoer van kopers asook markaanwysers dui daarop dat pryse na verwagting sal voortgaan om te daal totdat kopers die mark betree het.

Stella Beesfees gaan groot

Die RPO gaan die spitbraaikompetisie by die Stella Beesfees as handelsmerk bestuur en sal ook verantwoordelik wees vir die aanstel van die beoordelaars.
Die Stella Beesfees is 'n gemeenskapsfees wat ten doel het om 'n verskil in die gemeenskap se lewens te maak. Die oogmerk van die fees is om rooivleis en spesifiek lam- en skaapvleis te bevorder en daarom word Skaapvleis SA ook nou betrek. Die spitbraaikompetisie het reeds in 2014 as 'n proeflopie begin en dit was ‘n groot sukses.
Groot pryse is op die spel vir die eerste drie wenners. Die pryse sal ook deur die RPO geskenk word.
Daar word beoog om ongeveer 100 braaispanne in te skryf. Die area per span sal 5m x 5m wees. Die inskrywings sal nie beperk wees tot boere nie, maar groot maatskappye word ook geteiken om in te skryf. Riana Nel sal die kunstenaar by die geleentheid wees.
Die fondse wat tydens die kompetisie gegenereer word, sal teruggeploeg word in die gemeenskap om 'n kleinskaalse traumasentrum by die aftree-oord te vestig.
Vir verdere navrae en ‘n inskrywingsvorm, kontak Daan Diedericks by selfoon 082 899 3673.

Positiewe internasionale vooruitsigte vir beesvleis

Internasionaal dra stewiger vleisvoorrade in die lande wat die meeste vleis verbruik, soos Amerika en China, daartoe by dat die internasionale vooruitsigte vir beesvleis positief is, volgens ABSA Agri Trends.
Dit sal versterk word soos wat Australië se invoerkwotas besig is om uit te loop. Plaaslik word verwag dat pryse ‘n opwaartse neiging in lyn met seisoenale neigings sal volg soos wat die vraag na vleis in die warmer weersomstandighede groter sal raak.  Lees meer ...

RPO-NERPO Kode van Beste Praktyk

Riglyne vir biosekuriteit en siektebeheer
Biosekuriteit uit ‘n siektebeheerperspektief verwys na pro-aktiewe stappe en maatreëls wat op ‘n permanente of tydelike basis geneem moet word om die verspreiding en gevolge van aansteeklike siektes te voorkom. Lees meer ...

Wees slim met ‘MeatSmart’

In Julie 2015 is die eerste rooivleisvaardigheidskursus naamlik MeatSmart, suksesvol aangebied.
Die kursus vorm deel van die onlangse program wat geloods is vir transformasie in die rooivleisbedryf. Individue wat voorheen benadeel en werkloos was, is geselekteer as deel van die program om opgelei te word om rooivleis te bevorder. Die MeatSmart kursus bestaan uit 5 modules, naamlik Voedselveiligheid, Vleishantering, Kookkunstoepassing, Voeding en rooivleis, en Bemarking. Lees meer ...

Die Augustus 2015-uitgawe van Red Meat/Rooivleis is elektronies beskikbaar op www.agriconnect.co.za 

Skaapboer en Beesboer van die Jaar gesoek

Nominasies vir die Skaapboer van die Jaar asook die Beesboer van die Jaar word tans afgewag.
Vereistes sluit in die feit dat die  kandidaat ‘n leier boer in sy/haar omgewing moet wees en ‘n voorbeeld vir mede-boere. Sy/haar bestuurspraktyke en resultate moet ook as norm dien.  Lees meer ...

Kommer oor tekort aan entstowwe

Die Dierewelsyns-koördineringskomitee het sy kommer uitgespreek oor die feit dat verskeie kritiese vee-entstowwe tans nie beskikbaar is nie.
Daar word gevrees dat dit implikasies vir dierewelsyn kan inhou omdat dit nie moontlik is om diere teen siektes te beskerm wat ernstige, pynlike, onaangename en selfs dodelike gevolge vir die diere inhou nie.
Aangesien die entstowwe vir die voorkoming van heelwat siektes net deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) vervaardig word, is dit noodsaaklik dat  die OBP in staat gestel word om entstowwe van voldoende gehalte op die regte tyd beskikbaar te hê.

Hou jou vee se kondisie dop

Proteïen- en energie tekorte in vee word in baie gebiede in die land aangemeld, volgens die maandelikse verslag van dieresiekteneigings soos informeel gerapporteer deur veeartse wat aan die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika behoort.
Gevalle van vee wat so swak is dat hulle vankant gemaak moet word is aangemeld. As dit nie in die vroeë lente en somer reën nie, gaan daar in baie gebiede ‘n tekort aan weiding wees. Boere behoort nou al te beplan om bykomende voer te bekom indien dit nodig is.  Lees meer ...

Goeie vraag na skaapvleis verwag

Internasionaal behoort skaapvleispryse in die komende maande ondersteun te word deur veral die Kershandel as ‘n uitvloeisel van verwagte goeie aanvraag aangesien daar minder voorrade in die grootste uitvoerlande is, volgens ABSA Agri Trends.
Plaaslik sal skaapvleispryse na verwagting sywaarts tot afwaarts beweeg in lyn met seisoenale neigings en ook omdat die vraag na skaapvleis beperk bly. Groter aanvraag behoort egter gesien te word as gevolg van die warmer weersomstandighede, wat beteken dat mense dan graag braai.  Lees meer ...

  Skaapvleis Suid-Afrika – Ons gaan nou braai

Braaidag is een van die grootste gebeure op die Skaapvleis kalender.
‘n Braai is nie ‘n braai sonder ‘n tjoppie oor die kole nie! Die dag word elke jaar gevier met ‘n verskeidenheid advertensies in gedrukte en sosiale media wat die verbruiker gaan uitlok om nuwe liplekker resepte te probeer.   Lees meer ...

Perspektief

Kan weerstand teen wurmmiddels vertraag word?
Wurmmiddels word geskep vanaf chemiese verbindinge waarvoor wurms sensitief is en derhalwe meesal nie kan oorleef nie. Dit is egter nooit 100% doeltreffend nie, want dan word dit ‘n gif wat gevaarlik vir mens, dier en omgewing kan wees. Ten opsigte van die wurmbevolking self is daar ook altyd ‘n klein persentasie wat minder sensitief is, maar normaalweg maak dit nie baie saak nie, want hulle is vêr in die minderheid en sal so bly omdat met die kompetering van voedingstowwe in die spysverteringskanaal van die dier, die meerderheid die minderheid se getalle in toom sal hou.   Lees meer ...

Laai u PMF Nuusbrief hier af 


Ons epos adres is

Posbus 132
Persequor Park
0020

Ons webtuiste is:
www.rpo.co.za
 
Neem asseblief kennis hierdie e-pos is nie gemorspos nie. Dit is ’n nuusbrief van die RPO aan u, die gewaardeerde rooivleisprodusent