Copy
10 November 2017

'n Koffie-drink-kuierbrief van huis tot huis

Sit agteroor en laat my toe om 'n rukkie by jou te kuier.

Iets uit my hart

Dit is goed om te weet as iets goeds op die regte tyd gebeur. Soms is 'n mens gesteur deur iets wat ontydig gebeur. Ek het hierdie week Tannie Anna Hartley begrawe nadat sy op ses-en-negentigjarige ouderdom oorlede is. Die opmerking van een van haar dogters was: "Dit was so skielik". Die wysheidsboeke in die Bybel praat van 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan. Die Bybel sê ook ons tye is in God se hande. Vir ons is tyd geld - daarom moet ons dit alte goed spandeer! Vir God is tyd anders. Gevul met barmhartigheid, genade en geleenthede. Tyd is waar God aan't werk is. Tyd is waar Hy ons nooi om saam te werk. Tyd is 'n genadegawe - 'n geskenk met onbeperkte moontlikhede. 'n Leeftyd vir ons is vir God 'n oomblik. En elke oomblik in ons lewens is vir God kosbaar.

'n Nuwe era breek nou vir Hoogland aan. Ons nuwe dominee, Pieter Nel, sy vrou, Sanet en hul twee kinders, Lizeri en Janno het by ons aangesluit. Dis 'n nuwe tyd vir hulle as gesin, vir Pieter in sy bediening, én vir Hoogland. Baie welkom aan julle gesin! Mag julle die tyd wat die Here julle in Hoogland gebruik ryklik seën, mag julle gelukkig wees, julle gawes uitleef en beleef dat dit die regte tyd en plek is om julle roeping uit te leef. Mag die Woord wat jy gaan saai, Pieter, op vrugbare grond val, in mense se lewens ontkiem en vrug vir God se Koninkryk voortbring. 

Dis goed om te weet julle is hier. Nou kan ek my bokse begin pak.

Wat gebeur Sondag by Hoogland?
Ons vier die drie-en-twintigste Sondag in Koninkrykstyd. Ons verwelkom ds Pieter Nel en sy gesin en bevestig hom as leraar van Hoogland. Die Sinode van Oos-Kaapland en die Ring van PE sal ook verwelkomingswoorde spreek.

Oggenddiens (08h30): 
Soos die foto van die blomme hierbo, word ons by hierdie diens herinner aan groei wat God gee. Eers moet die saadjie sterf, dan moet dit gesaai word en dan - onder die regte omstandighede - ontkiem dit, groei dit en bring dit ons tot verbasing oor die prag daarvan. Ds Danie Nel, Pieter se pa, gaan die bevestiging behartig en Pieter sal die prediking waarneem. Almal is hartlik welkom by hierdie spesiale geleentheid! 

Kuier in die Saal:
Ons verwelkom Pieter en sy gesin op 'n eg Hoogland manier deur direk na afloop van die diens gesellig in die saal te verkeer. Kom kuier saam. Jy's welkom!

Die Geloofsvormingsgroepe het verlede week vir die jaar afgesluit. Ons hervat weer DV 2018. Geniet die vakansie wat voorlê! 

Aanddiens (18h30-19h30):
Informele gesprek oor die lewe na die dood. Kom gesels saam.

November 2017
12
Kliek hieronder om die afkondigings te lees.
AFKONDIGINGS
LOFKABOUTERS
Ouers, bring julle kindertjies tydens eredienste na Lofkabouters. 
Laat weet ons as jy hier wil betrokke raak.
JEUG
Aan al die leerders wat  met eksamen besig is, sê ons baie sterkte! Vertrou die Here om julle elke dag krag te gee om net julle beste te lewer! Onthou, daar is 'n laaang vakansie wat wink.
KERSSANGDIENS
Moenie hierdie jaar se Kerssangdiens misloop nie. Dis volgende Sondagaand, 19 November om 18h30. Wees vroeg daar om seker te maak jy kry plek. Dankie aan ons kinders wat so mooi daarvoor oefen!
'n Paar belangrike gebeure op ons kalender vir November
  • 12 November
    Bevestiging en verwelkoming: Ds Pieter Nel en sy gesin met geselligheid na die diens in die saal.
  • 18 November
    Dorings & Daisies afsluiting
  • 19 November
    Kerssangdiens (18h30)
  • 26 November
    Belydenisaflegging
Met SnapScan het jy nou ’n maklike en veilige manier om jou dankoffer, kollekte,  projekbydrae (bv. Basaar) of donasie te maak. 

Vir instruksies om SnapScan op jou slimfoon af te laai en dit te gebruik, klier hier.

Onthou ook van erflatings as 'n manier om 'n finansiële bydrae tot die gemeente te maak.

Gebed

Hier is ek, Here,
my liggaam, my hart, my lewe.
Laat u liefde my vul
sodat ek groot genoeg mag wees 
om die wêreld te kan help,
maar klein genoeg om
een te wees met U.
Amen


(Gebed deur Moeder Teresa, Bron: Die Groot Gebedeboek)
Geniet die naweek! 
Vrede en groete,
Kopiereg © 2017 PE Hoogland, Alle regte voorbehou.

Ons adres en telefoonnommer is:
Isobellaan 1, Charlo (041) 367 1485

You can update your preferences or unsubscribe from this list






This email was sent to <<Email Address>>
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
NG Kerk PE Hoogland · 1 Isobellaan · Charlo · Port Elizabeth, Eastern Cape 6070 · South Africa

Email Marketing Powered by Mailchimp