Copy
26 Augustus 2017

'n Koffie-drink-kuierbrief van huis tot huis

Sit agteroor en laat my toe om 'n rukkie by jou te kuier.

Iets uit my hart

Sonder om dit te romantiseer, is gestremdheid deel van die rykdom aspekte van menswees. Ons leef daagliks saam met mense met gestremdhede. Sommige mense met gestremdhede is meer opsigtelik as ander. Party gestremdhede is in hoër graad as ander. Saam is ons 'n ryke verskeidenheid. Saam vorm ons die liggaam van Christus.

Gestremdheid kom met vele uitdagings - fisies, emosioneel, sosiaal en ekonomies. Hoe is die gemeente as liggaam ingestel op hierdie uitdagings? Tot watter mate bied ons 'n veilige ruimte vir elkeen om sy/haar posisie in die liggaam te vier, te geniet en te ontgin? Hoeveel praktiese voorsiening maak ons vir mense met gestremdheid om gemaklik deel van die gemeente te kan wees, eredienste te kan bywoon, deel te neem aan aktiwiteite en sosiale geleenthede?

Ek glo dat ons as Hooglanders onsself opnuut sal bewus maak van die gawe van die verskeidenheid - en ons verantwoordelikheid en opdrag om die ruimte vir almal veilig, vierend en toeganklik te maak. Kom ons vier volgende Vrydag Loslitdag. Kaartjies @ R10 is by Gemeentedienste te koop. So ondersteun ons Aurora se werksaamhede in die versorging van mense met gestremdhede.

The Christian Reformation Part 05:  CALVINISM Commemorating 500 Year Protestant Reformation
Hiermee die vyfde episode oor die Protestantse Reformasie waarvan ons die 500ste herdenking vanjaar vier. Volg oor 'n paar weke hierdie besonder insiggewende kort insette om meer oor die Reformasie of Hervorming te leer. Vertoon hierdie inset in julle huise en gesels gerus met kinders in julle huishoudings daaroor.

Wat gebeur Sondag by Hoogland?
Ons vier die elfd Sondag in Koninkrykstyd.

Oggenddiens (09h00): 
Ons vier op spesiale wyse ons Tiende Dankofferfees! Bring jou koevertjie saam kerk toe, gee die kinders ook 'n koevertjie om saam te bring en bring. Daar sal 'n spesifieke geleentheid in die diens wees om julle koeverte in die houer voor in die kerk te plaas. Ons vier ook Nagmaal om ons eenheid met Christus en mekaar te herdenk. Die tema van die diens is: Die Heilige Gees lei ons tot nuwe deurbrake. Ds. Michelle Boonzaaier behartig die prediking uit Handelinge 10.

Kuier in die Voorhuis:
Jy word genooi om direk na die oggenddiens vir 'n rukkie in die Voorhuis te kom kuier. Ons leer mekaar in 'n gesellige atmosfeer beter ken. Jy's welkom!

Geloofsvorming vir ons kinders:

  • Junior GVG (Gr R tot 6) (10h00 tot 10h45): 
    Ons sing eers, direk na die oggenddiens saam in die kerk, waarna ons met ons mentors na ons kleingroepies gaan. 
  • Senior GVG (Gr 7 tot 11) (17h30 tot 18h25): 
    Kleingroepe ontmoet hulle mentors vir geloofsgesprekke.

Aanddiens (18h30-19h30):
Ons gaan voort met die kursus: Die Bybel in fokus. Ons gesels oor die vraag: Hoe kan ons weer God se stem in die Bybel hoor?

Augustus 2017
27
Kliek hieronder om die afkondigings te lees.
AFKONDIGINGS
LOFKABOUTERS
Ouers, bring julle kindertjies tydens eredienste na Lofkabouters in die Moederskamer. 
Laat weet ons as jy hier wil betrokke raak.
JEUG
Die Kairos-Musiekgroep oefen Sondae 16h00 tot 17h30 in die kerk. Ons sien uit na 'n jeugdiens waar hulle ons in lof en aanbidding gaan begelei! Om meer uit te vind, of aan te sluit, kontak vir Michael: 0728204438.
TIENDE DANKOFFERFEES
Môre is die geleentheid om ons dankbaarheid vir die Here se goedheid in ons lewens te betuig by ons spesiale Tiende Dankofferfees. Bring asseblief julle tiende-bydraes in die koevertjies na hierdie diens waar ons die geleentheid gaan hê om ons dankoffers vorentoe te bring. Daar is ook 'n geleenntheid om jou debietorder aan te pas of daarmee te begin. Ons is dankbaar vir elke rand wat met 'n dankbare hart gegee word.
Reformasie 500
 

Die reformasie het vir Luther teen ’n hoë prys gekom.  Hy het nie die luukse van ’n ivoortoring gehad van waar hy sy teologie kon bedryf nie.  Aan die einde van sy lewe, in 1546, het hy baie vreugdes en baie hartseer beleef.  Baie van sy ou vriende het hul rug op hom gedraai.  Vir die grootste deel van sy lewe was hy as ’n krimineel beskou en moes hy vir sy lewe vlug.  Sy gestel het nooit regtig herstel van die asketiese lewe wat hy as priester geleef het nie.  Hy het gely aan depressie.  Hy het getwyfel en baie met God geworstel.  Sy teologie is nie in ’n vakuum gevorm nie – maar in die loopgrawe van die alledaagse lewe.

Neem nou maar net Luther se liefdeslewe as voorbeeld hiervan:

Luther se eie ribbebeen

Luther was vir die grootste deel van sy lewe ’n geswore oujongkêrel – maar hy het sy moses teëgekom in die non, Katharina von Bora.

Katharina was lid van ’n klooster-orde, maar wou daarúít ontsnap – iets wat lewensgevaarlik was.  Luther en sy vriend, Leonard Koppe – ’n vishandelaar – het ’n plan bedink.  Toe Koppe sy gewone bestelling van vis by die klooster aflaai in houtvate het 12 nonne wat wou ontsnap binne-in die leë vate weggekruip en is hulle na Wittenberg gebring waar Luther geskikte mans vir hulle moes vind.

Een van die nonne, het dit later geblyk, was maar redelik uitsoekerig.  Luther was ten gunste daarvan dat priesters moes trou, maar was nie eintlik self van plan om die groot stap te waag nie.  Een rede daarvoor was dat hy ’n vlugteling was met ’n doodsvonnis wat oor sy kop gehang het.  Hy wou nie ’n gesin aan dié gevare blootstel nie.  ’n Ander, nog groter rede, was dat hy eenvoudig gemaklik was met die lewe van ’n oujongkêrel.  Katie het egter ander planne vir hom gehad!

Luther sou later erken dat hy nie met haar getrou het uit liefde nie.  Hy wou graag vir sy ouers kleinkinders gee en hy wou die pous terugkry!   Katie het egter haar sin gekry én Luther se hart gewen!  Hulle storie is ’n liefdesverhaal soos min ander in die kerk se geskiedenis.  Luther het haar “Katie, my ribbebeen” genoem en het geskryf:  “Daar is nie ’n soeter eenheid as die eenheid wat gevorm word in ’n goeie huwelik nie”.

Hulle het 6 kinders van hul eie gehad en het nóg kinders aangeneem wat wees gelaat is deur die pes wat deur Europa versprei het!

LERAARSPOS

Hoogland beroep eerskomende Maandagaand ons mede-leraar na Hoogland. Ons bedank almal vir julle voorbidding vir hierdie belangrike proses.

GEMEENTE-ETE
Hou asseblief die 15de September oop vir 'n gesellige saamkuier-aand by Hoogland. Kaartjies @ R50pp is by Gemeentedienste en die kerkkantoor beskikbaar. Moet dit nie mis nie... dit gaan gourmet-burgers wees!
Mimi Coertze tree op

Op Saterdag 2 September 2017 is die Kinderoord MTR Smit bevoorreg om Mimi Coertze as die gasspreker by hulle jaarlikse oggendtee te kan hê.  
Kaartjies is by Hester, MTR Smit kantoor (tel. 041 367 1103) beskikbaar teen R150 elk.
 
Indien u as gasvrou by ‘n tafel van 10 sitplekke wil optree is u welkom.
Alle tafels word gedek met linne, servette, blomme, wit breekgoed en eetgoed.  
Indien u egter u eie  koppies en pierings wil verskaf om u persoonlike stempel af te druk, is u welkom.
 
Enige bydraes om die gaste se vlugkoste te dek sal baie verwelkom en hoog waardeer word.
Met SnapScan het jy nou ’n maklike en veilige manier om jou dankoffer, kollekte,  projekbydrae (bv. Basaar) of donasie te maak. 

Vir instruksies om SnapScan op jou slimfoon af te laai en dit te gebruik, klier hier.

Onthou ook van erflatings as 'n manier om 'n finansiële bydrae tot die gemeente te maak.

Hemelse Vader

Ons bid dat U vir ons ʼn nuwe verbeelding vir die koms

van u koninkryk in Suid-Afrika sal gee.

Ons bid dat U u Gees sal uitstort, Here,

sodat ons gesigte sal sien en drome sal droom

van ʼn wêreld waarin mense mekaar respekteer en mekaar

omarm.

Ons droom dat u koninkryk sal kom sodat

geregtigheid sal geskied.

Ons bid vir ʼn regverdige en lewenskragtige

ekonomiese verdeling

wat geleenthede aan almal sal bied.

Ons bid dat ons families herstel sal word

om ruimtes van geestelike en morele vorming te wees.

Ons bid vir ʼn seisoen van luister, versoening en vergifnis.

Ons bid dat Suid-Afrika die toonbeeld van respek

vir die Godgegewe waardigheid van elke mens sal wees.

Ons bid vir ʼn land gereinig van rassisme, patriargie, korrupsie

en omkopery

waar almal die vryheid wat ons grondwet voorsien,

sal uitleef deur die vreugde van liefde en diens.

Ons vra dat U ons in staat sal stel om hierdie

drome waar te maak

en lewende getuienisse te word van die lewe

soos dit in die hemel is.

Dit bid ons in die Naam van die Vader, die Seun

en die Heilige Gees.

Amen

(Bron: Deurdrenk ons land met gebed, SARK)

Die volledige gebedsgids vir tien dae kan hier afgelaai word.
Geniet die naweek!
Vrede en groete,
Kopiereg © 2017 PE Hoogland, Alle regte voorbehou.

Ons adres en telefoonnommer is:
Isobellaan 1, Charlo (041) 367 1485

You can update your preferences or unsubscribe from this list






This email was sent to <<Email Address>>
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
NG Kerk PE Hoogland · 1 Isobellaan · Charlo · Port Elizabeth, Eastern Cape 6070 · South Africa

Email Marketing Powered by Mailchimp