Copy
29 September 2017

'n Koffie-drink-kuierbrief van huis tot huis

Sit agteroor en laat my toe om 'n rukkie by jou te kuier.

Iets uit my hart

'n Vriend van my worstel op 'n redelike jong ouderdom met kanker - wat meer aggressief is as wat aanvanklik vermoed is. Hy is soms hoopvol en positief, maar meer kere hoor ek sy ervaringe van vrees, moedelooshied en hooploosheid deurskemer... of selfs prontuit uitgeblaker. Dan lyk my eie sorge skielik soos niks. Maar meer nog as dit... besef ek die broosheid van die lewe en die magteloosheid teenoor die lewe wat soms vreemde paaie met ons stap - en dat niemand gevrywaar is van die noodlot nie. Dat nie ek of enige iemand kan aanspraak maak om dit vry te spring nie. Om te troos in sulke tye is ook moeilik... amper onmoontlik. Om daar te wees help al 'n bietjie, maar aan die einde van die dag is elkeen alleen met hulle eie sorge. En moet elkeen dit self verwerk... of daaruit probeer sin maak... of daarmee leef...

Dan is dit iets uit ons Gereformeerde erfenis wat my help om hoop te hê... 

"My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek met liggaam en siel, nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so 'n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe." (Heidelbergse Kategismus, Vraag en antwoord 1).

Mag elkeen wat met iets in die lewe worstel, hierin ook troos ontvang.

Wat gebeur Sondag by Hoogland?
Ons vier die sewentiende Sondag in Koninkrykstyd.

Oggenddiens (09h00): 
Ons verwelkom Rev. Barnabas Ngqozela van die VGK (New Brighton en Walmer) op Hoogland se kansel. Ons is bevoorreg om in vennootskap met hierdie VGK-gemeente te staan en hoop dat hierdie besoek ons bande sal versterk. Ek neem 'n huweliksbevestiging in Graaff Reinet waar en sal daarom nie by die diens wees nie. Die tema van die diens is: The Lord that we serve is the God of unity and not of divisions. Die Skriflesing  kom uit Psalm 133:1-3.

Kuier in die Voorhuis:
Kom kuier gerus na afloop van die oggenddiens in die Voorhuis en leer ds Ngqozela beter ken rondom iets te drinke.

Geloofsvorming vir ons kinders:

  • Junior GVG (Gr R tot 6): 
    Geen, as gevolg van vakansie
  • Senior GVG (Gr 7 tot 11): 
    Geen, as gevolg van vakansie

Aanddiens:
Geen, as gevolg van vakansie

Oktober 2017
01
Kliek hieronder om die afkondigings te lees.
AFKONDIGINGS
LOFKABOUTERS
Ouers, bring julle kindertjies tydens eredienste na Lofkabouters. 
Laat weet ons as jy hier wil betrokke raak.
JEUG
Die Kairos-Musiekgroep het afgeskop en wil uitbrei en voorberei vir 2018. Laat weet ons as jy ook wil aansluit by die musiekgroep. Ons sal jou graag daar wil hê!
KERSMARK
Dis beslis die moeite werd om almal te vertel van Hoogland se Kersmark...
27 - 28 Oktober 2017. Kontak die kerkkantoor indien jy iewers wil help, of weet van iemand wat graag hulle produkte wil uitstal.
Onthou die befaamde Hoogland-ontbyt wat Saterdagoggend bedien sal word. Kaartjies sal binnekort beskikbaar wees. Laat weet solank almal wat jy ken dat jy hulle by Hoogland ontmoet vir ontbyt.
Reformasie 500
 

Een van die belangrikste intellektuele bewegings van die 1500’s, wat die reformasie moontlik gemaak het, was die Renaissance.

En een van die belangrikste denkers van hierdie was Desiderius Erasmus.  Hy was ’n professor in Grieks en Hebreeus by die Universiteit van Oxford en sy gunsteling tydverdryf was om deur Europa te reis op soek na oorspronklike Griekse manuskripte van die Nuwe Testament.

In daardie tyd was teoloë afhanklik van die Vulgaat – die Latynse teks van die Bybel.  Daar was eenvoudig geen ander teks beskikbaar nie.  Daar was ook nie ’n volledige Griekse teks van die Nuwe Testament nie.  Hierdie manuskripte het verspreid gelê in kloosters regoor Europa en die Mediterreense streke – die vrug van die arbeid van priesters wat die tekste met die hand gekopieer het.

Erasmus, wat ’n baie welvarende man was, het hierdie teks opgekoop en bymekaargemaak en in 1516 die Novum Testamentum Omne gepubliseer.  Vir die eerste keer in ’n hele paar eeue hoef teologiese navorsers nie op ’n vertaalde teks van die Bybel staat te maak nie, maar kon hulle teruggaan na die oorspronklike teks!

Dit was natuurlik in lyn met een van die sentrale waardes van die Renaissance:  Ad Fontes – terug na die bron van die fontein.  Vir die reformasie het dit beteken dat daar verby die tradisie gekyk moes word, na die oorspronklike betekenis van die Woord.

As daar nie ’n Erasmus en sy Griekse teks was nie, was daar dalk nooit ’n Luther en ’n Sola Scriptura nie!

Het jy al Flam se reformasielied gehoor?

https://www.youtube.com/watch?v=v8hQLUA_-9U

Die bladmusiek is beskikbaar by http://www.flam.co.za/

Bron: http://refo500.christians.co.za

LERAARSPOS

Ds. Pieter Nel se verwelkoming sal DV tydens die oggenddiens van 12 November plaasvind. Ons vertrou dat Hoogland vir hom en sy familie 'n warm Hoogland verwelkoming sal gee. Intussen wens ons hulle sterkte toe met die afskeid en pakkery!!
 

Met SnapScan het jy nou ’n maklike en veilige manier om jou dankoffer, kollekte,  projekbydrae (bv. Basaar) of donasie te maak. 

Vir instruksies om SnapScan op jou slimfoon af te laai en dit te gebruik, klier hier.

Onthou ook van erflatings as 'n manier om 'n finansiële bydrae tot die gemeente te maak.

Gebed vir groei

God met die liefdevolle hart,
maak myne ook so.
God met die sagte hande,
maak myne ook teer.
God van gewillige voete,
laat my op u pad volg.
En mag ek só nader aan U groei
in alles wat ek sê en doen.

Amen

(Gebed deur Broer Kenneth, Bron: Die Groot Gebedeboek)
Geniet die naweek!
Vrede en groete,
Kopiereg © 2017 PE Hoogland, Alle regte voorbehou.

Ons adres en telefoonnommer is:
Isobellaan 1, Charlo (041) 367 1485

You can update your preferences or unsubscribe from this list






This email was sent to <<Email Address>>
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
NG Kerk PE Hoogland · 1 Isobellaan · Charlo · Port Elizabeth, Eastern Cape 6070 · South Africa

Email Marketing Powered by Mailchimp