Copy
13 Oktober 2017

'n Koffie-drink-kuierbrief van huis tot huis

Sit agteroor en laat my toe om 'n rukkie by jou te kuier.

Iets uit my hart

So spoed die jaar na 'n einde. Die einde van 'n jaar met soveel wat gebeur het. Die einde van die skoolloopbaan vir die matrieks wat eerskomende Maandag met hulle finale skooleksamen begin. (Hey, sterkte aan julle!!! Ons dink aan julle.) Ook die einde van my bediening in Hoogland van amper 20 jaar. Ek het hierdie (laasgenoemde) werklikheid nou lank genoeg onder die mat gevee - dit is die werklikheid wat ons nou in die oë moet staar.

Ek was die afgelope week, saam met my voornemende drie kollegas van Sonstraal-gemeente, in die Koue Bokkeveld, naby Ceres, om die jaar wat voorlê te beplan. Alhoewel ek verlof vir hierdie paar dae geneem het, was dit allermins 'n vakansietjie! Tog was dit goed om die leraarspan beter te leer ken en om myself goed te oriënteer ten opsigte van dit wat daar voorlê.

Alhoewel die gemeente groot is (ongeveer 4500 lidmate), met baie bedieninge en aktiwiteite, is Sonstraal en Mosaïek 'n gemeente wat niks anders wil wees as 'n ruimte waar gelowiges veilig kan wees en daarna streef om die lewenspad in geloof te stap nie. Ek het bykans deurgans gevoel dat ons besig is om oor Hoogland te praat en vir Hoogland te beplan. Op hierdie manier het ek beleef hoe die Here met sy kerk - as eenheid - op weg is; dat ons hier in die Oos-Kaap deur Christus ook met Sonstraal in die Wes-Kaap verbind is.

Nou lê 'n kort, maar opwindende vierde kwartaal vir ons voor. Dink aan die Skoolverlatersdiens (eerskomende Sondag), Kersmark, die Lofsangdiens vir Seniors, Kerssangdiens, bevestiging van Pieter en die onvermeidelike afskeid in Desember. Intussen beoog ons ook om die belydenisaflegging na 26 November te skuif. Dan is dit amper Kersfees en tyd om uit te span.

Ons is in die proses om 'n huis in die Kaap te koop - wat taamlik werk nodig het. Daarom sal ons ons eerste paar weke in die Kaap maar onder die stof wees. Intussen is ons hier en dien ons die Here met oorgawe met alles wat ons het. Onthou, ons oggenddienste is vanaf eerskomende Sondag weer om 8:30 (Somertyd). Sien julle daar!

Wat gebeur Sondag by Hoogland?
Ons vier die neëntiende Sondag in Koninkrykstyd. Dit is ook 'n spesiale diens vir al die skoolverlaters en hulle familie. 

Oggenddiens (08h30)
Let asseblief op ons eredienstyd wat nou, in somertyd, 08h30 is. Ons nooi matrieks, hulle families en onderwysers na hierdie spesiale diens. Die tema van die diens is: Jesus... meer as genoeg. Die prediking fokus op 1 Korintiërs 2:1-5.

Kuier in die Voorhuis:
Kom kuier gerus na die diens in die Voorhuis. Hier bou ons vriendskappe. As jy nuut is by Hoogland, of by ons kuier, wil ons jou graag daar ontmoet. Jy's welkom!

Geloofsvorming vir ons kinders:

  • Junior GVG (Gr R tot 6) (09h30 tot 10h15): 
    Hierdie kwartaal fokus ons op die Kerssangdiens wat voorlê as ons kersliedere oefen. Kinders moet hierdie geleenthede asseblief bywoon om deel te wees van die massakoor.
  • Senior GVG (Gr 7 tot 11) (17h30 tot 18h25): 
    Kleingroepe ontmoet hulle mentors vir geloofsgesprekke. Ons gaan hulle ook vir deelname aan die Kerssangdiens inspan.

Aanddiens (18h30-19h30):
Ons vergader vir 'n informele gesprek in die Voorhuis. Almal is baie welkom.

Oktober 2017
15
Kliek hieronder om die afkondigings te lees.
AFKONDIGINGS
LOFKABOUTERS
Ouers, bring julle kindertjies tydens eredienste na Lofkabouters. 
Laat weet ons as jy hier wil betrokke raak.
JEUG
Met die kort, besige laaste kwartaal, wens ons ons kinders en jongmense sterkte toe met hulle skoolwerk. Aan die matrieks wat hierdie week met eksamen begin, sê ons baie sterkte! Hard leer en doen julle bes!
KERSMARK
PE se beste Kersmark is om die draai. Wees deel daarvan: 27 - 28 Oktober 2017. Kontak die kerkkantoor indien jy iewers wil help. Intussen, laat weet julle vriende dat dit die plek is om te wees... te kuier, te koop en te geniet!
Reformasie 500
 

In ’n lesing wat Zwingli aangebied het by die klooster van Oetenbach (getiteld  “Oor die duidelikheid en sekerheid van die Woord van God’)  gee Zwingli uiting aan een van die reformasies se belangrikste waardes:  Sola Scriptura.

Hy dui hier drie belangrike kenmerke van die Skrif aan:  die Skrif het krag, sekerheid en duidelikheid.  Volgens Stephen J. Nichols, die kerkhistorikus, was die Reformasie suksesvol juis omdat dit op die Skrif gebaseer was.

Dit was Zwingli – saam met die ander leiers van die reformasie – wat ’n nuwe waarde geheg het aan die korrekte eksegese en gesag van die Skrif.

Volgens Zwingli het net die Bybel regtig die krag om mense se lewens te verander.  Politieke druk en godsdienstige formalisme het nog altyd en sal altyd vêr te kort skiet.

Volgens Zwingli het die Bybel die vermoë om jou te verpletter en te vernietig óf om jou op te tel en te vertroos.  Dit kan jou met vreugde óf met hartseer vul.

Die Bybel is egter ook seker.  Vanaf Genesis 1 lees ons dat as God dit sê, dit so is.

Oor die duidelikheid van die Skrif, sê Zwingli, moet jy theodidacti wees  – dit is, jy moet toelaat dat God jou leer.  Ons het God se Woord en ons het die Heilige Gees, die gewer van Sy Woord.  Die resultaat hiervan is dat daar geen ander Woord is wat ons so kan vervul nie.  Dit is hierdie Woord wat die ewige lewe gee.

Hy sluit hierdie lesing af met die gebed:  “Mag God die krag van Sy Woord in ons laat toeneem en mag ons nooit daarvan afvallig raak nie.”

Dit is die Skrif, volgens Zwingli, wat die verskil gemaak het tussen ‘Die Ware en die Valse Godsdiens’ – die titel van een van Zwingli se geskrifte.  Zwingli het nie geskroom om die foute in die Rooms-Katolieke kerk uit te wys nie.  Op grond van die Skrif sou hy die sakramente van sewe na twee verminder, die leer van die vagevuur verwerp en ook die gesag van die pous bevraagteken.

Net soos Luther, sou Zwingli ook die pous gelykstel aan die Antichris.

(geneem en aangepas uit Stephen J. Nichols se boek ”The Reformation:  How a Monk and a Mallet Changed the World).

Bron: http://refo500.christians.co.za

Met SnapScan het jy nou ’n maklike en veilige manier om jou dankoffer, kollekte,  projekbydrae (bv. Basaar) of donasie te maak. 

Vir instruksies om SnapScan op jou slimfoon af te laai en dit te gebruik, klier hier.

Onthou ook van erflatings as 'n manier om 'n finansiële bydrae tot die gemeente te maak.

Ingestel op God - 'n meditasie

Almagtige God
ek wil my gedagtes, my gevoelens en my begeertes
in hieride oomblik op U rig.

Ek wil U voel en vind
al is dit by benadering
soos 'n blinde wat reik en tas
na die ongrypbaarheid van lig,
want U is buite my begrip...
U wat voor alles was
- van ewigheid tot ewigheid -
in Wie alles is en nog sal wees, 
Begin, Sin en Voleinding van my bestaan,
Verbond van hemel en aarde,
God van water, wind en vuur en grond,
Skepper van die lewe,
Maker van die heelal en van mense,
U wat heers oor sonnestelsels en atome,
die verbinding van my chromosome...

Ek wil my denke, hart,
en diepste wense op U rig,
getrou en goed.
Ontferm U oor my,
kom my tegemoet.


Amen

(Gebed deur Willie van der Merwe, Bron: Die Groot Gebedeboek)
Geniet die naweek!
Vrede en groete,
Kopiereg © 2017 PE Hoogland, Alle regte voorbehou.

Ons adres en telefoonnommer is:
Isobellaan 1, Charlo (041) 367 1485

You can update your preferences or unsubscribe from this list






This email was sent to <<Email Address>>
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
NG Kerk PE Hoogland · 1 Isobellaan · Charlo · Port Elizabeth, Eastern Cape 6070 · South Africa

Email Marketing Powered by Mailchimp