Copy
20 Oktober 2017

'n Koffie-drink-kuierbrief van huis tot huis

Sit agteroor en laat my toe om 'n rukkie by jou te kuier.

Iets uit my hart

"Om die onsienlike te sien", lui die titel van die boekie op my lessenaar. Dit handel oor geloofsake - drie dekades gelede al geskryf deur dominee-filosoof: Anton van Niekerk. Hy bekyk die drie kernsake van die Christelike geloof, naamlik: geloof, hoop en liefde. So toepaslik vir ons tyd... en enige tyd. Dit laat my wonder hoe vaar ons vandag met hierdie drie sake - teenoor 'n klompie dekades gelede... 'n eeu gelede... Is dit anders? Worstel mense regoor die wêreld (nog) met hierdie sake? 

Tog - wanneer ons as gemeente van Christus is - bly dit kern. Ons lewensdoel is om met dieper insig rondom hierdie drie sake te lewe.

Waar lê die swaartepunt tussen hierdie drie...? Geloof, hoop, liefde. Paulus meen dis die liefde waar alles saamkom. Hoe is dit met mekaar vervleg? Watter rol speel elkeen? Waar begin alles? Dan is dit treffend om weer na te dink oor Prof Flip Theron wat die Evangelie beklemtoon as hy ons tot rus laat kom in Christus se geloof.

Mag juis dié geloof, Christus se geloof, jou laat rus vind in Hom. Mag ons uit hierdie geloof lewe - met liefde.

In ons proses om onsself voor te berei vir ons verhuising na die Kaap, moet ons ongelukkig ook vir ons geliefde huishulp en tuinier groet. Ons wil graag vir hulle voorsien van werk na ons vertrek het. Evelyn, ons huishulp, werk reeds 19 jaar vir ons. Sy is uiters betroubaar, eerlik en vriendelik. Sy is 67 jaar oud en sal graag twee dae in die week wil werk om haar pensioen aan te vul. William is vroeg in sy veertigs en werk reeds meer as tien jaar vir ons. Hy is hardwerkend en neem goeie inisiatief. Hy sal graag op Woensdae, Vrydae en selfs oor naweke wil werk. William se vrou sal ook graag in die huis wil werk en is enige dag beskikbaar. Kontak my asseblief indien julle iemand soek om vir julle in die huis of tuin te werk.

Wat gebeur Sondag by Hoogland?
Ons vier die twintigste Sondag in Koninkrykstyd. 

Oggenddiens (08h30)
Onthou ons eredienstyd wat nou, in somertyd, 08h30 is. Ons verwelkom die Cantatori Mannekoor wat by ons optree. Die tema van die diens is: Ontvang rus (Sola fidei). Die prediking fokus op Lukas 7:1-10, Galasiërs 2:15-16 en 3:11.

Kuier in die Voorhuis:
Kom kuier gerus na die diens in die Voorhuis. Hier bou ons vriendskappe. As jy nuut is by Hoogland, of by ons kuier, wil ons jou graag daar ontmoet. Jy's welkom!

Geloofsvorming vir ons kinders:

  • Junior GVG (Gr R tot 6) (09h30 tot 10h15): 
    Hierdie kwartaal fokus ons op die Kerssangdiens wat voorlê as ons kersliedere oefen. Kinders moet hierdie geleenthede asseblief bywoon om deel te wees van die massakoor.
  • Senior GVG (Gr 7 tot 11) (17h30 tot 18h25): 
    Kleingroepe ontmoet hulle mentors vir geloofsgesprekke. Ons gaan hulle ook vir deelname aan die Kerssangdiens inspan.

Aanddiens (18h30-19h30):
Ons kyk die film: Luther. Die film is amper twee ure lank, bring gerus 'n kussing saam. Daar sal springmielies en koffie wees om te geniet terwyl ons die film kyk.

Oktober 2017
22
Kliek hieronder om die afkondigings te lees.
AFKONDIGINGS
LOFKABOUTERS
Ouers, bring julle kindertjies tydens eredienste na Lofkabouters. 
Laat weet ons as jy hier wil betrokke raak.
JEUG
Met die kort, besige laaste kwartaal, wens ons ons kinders en jongmense sterkte toe met hulle skoolwerk. Aan die matrieks wat  met eksamen begin het, sê ons baie sterkte! Hard leer en doen julle bes!
KERSMARK
PE se beste Kersmark is om die draai. Wees deel daarvan: 27 - 28 Oktober 2017. Kontak die kerkkantoor indien jy iewers wil help. Intussen, laat weet julle vriende dat dit die plek is om te wees... te kuier, te koop en te geniet!
Kyk gerus na hierdie goeie uitbeelding van Luther se lewe. Dit gee jonk en oud 'n duidelike verstaan van sy roeping en sy lewe.
Reformasie 500
 

Luther het nie baie tyd vir pretensie gehad nie.  Hy het graag met homself en met ander teoloë gespot.  Hy het een keer gesê:  “God het teoloë en prinse maar dom gemaak – net om almal daaraan te herinner dat net Hy wys en almagtig is.”

Dit was sy bewustheid van sy eie gebrokenheid wat hom nog stywer laat vashou het aan die genade van God.

Hy het God se hand orals gesien.  “Die Here het die beste gawes die mees alledaagse gemaak.  Een van die belangrikste gawes van lewende wesens is hulle oë.  Voëls het die kleinste oë, maar kan ’n vlieg oor die lengte van ’n vertrek sien. Ons herken nie hierdie gawes nie.  Ons is maar dom.”

Eendag, terwyl met een van sy kinders gespeel het, het hy opgemerk:  “Dit is die beste van al God se gawes.”

Nooit het Luther na homself gewys nie – altyd weg van homself en na Jesus en die kruis.  Hy het dit reggekry om deur die geraas van die wêreld mense weer bewus te maak van die krag van die evangelie.

Bron: http://refo500.christians.co.za

Met SnapScan het jy nou ’n maklike en veilige manier om jou dankoffer, kollekte,  projekbydrae (bv. Basaar) of donasie te maak. 

Vir instruksies om SnapScan op jou slimfoon af te laai en dit te gebruik, klier hier.

Onthou ook van erflatings as 'n manier om 'n finansiële bydrae tot die gemeente te maak.

'n Gebed oor God se liefde

O lieflike en liefdevolle God,
as ek te lank slaap, en onbewus is van u baie seëninge,
maak my dan wakker.
Sing vir my 'n uitbundige lied van vreugde.
Dit is 'n lied sonder klank of note;
dit is 'n lied van liefde verby alle woorde.
Dit is 'n lied van trou wat geen mens kan beskryf nie.
Ek hoor dit in my siel wanneer U my wakker maak
om bewus te word van u teenwoordigheid.


Amen

(Gebed deur Mechthild van Magdeburg uit die 13de eeu, Bron: Die Groot Gebedeboek)
Geniet die naweek!
Vrede en groete,
Kopiereg © 2017 PE Hoogland, Alle regte voorbehou.

Ons adres en telefoonnommer is:
Isobellaan 1, Charlo (041) 367 1485

You can update your preferences or unsubscribe from this list






This email was sent to <<Email Address>>
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
NG Kerk PE Hoogland · 1 Isobellaan · Charlo · Port Elizabeth, Eastern Cape 6070 · South Africa

Email Marketing Powered by Mailchimp