Copy
Familiebediening
Die Sewe Weke program het laasweek afgeskop. Ons doen hierdie jaar die Ek is-uitsprake van Jesus in Johannes.  Ons volg dieselfde program by ons Junior Kategese Sondagoggende in die Hofmeyrsaal asook saans met die tieners en die Belydenisgroep.  Ons moedig gesinne aan  om die Familiebyeenkomste  in die Sewe Weke boekie saam te doen.
 
Hierdie week reflekteer ons saam op Jesus wat gesê het: Ek is die brood wat lewe gee (Joh 6:48). Bak saam ‘n brood, dek ‘n tafel en gesels saam oor die uitdagings in ons eie land waar 63% van kinders (bykans 4 miljoen) in armoede leef en broodgebrek ly. In Joh 15 lees ons waar Jesus ‘n skare kos gee.  Hy gebruik dit wat sy dissipels bymekaar kon maak – 5 brode en 2 vissies.  Gesels met mekaar wat elkeen van julle in die gesin het om te gee sodat kinders se broodgebrek verlig kan word. Kyk saam na ‘n inspirerende storie van ‘n plaaslike laerskoolmeisie wat geraak is deur kinders wat honger skool toe kom en ‘n plan gemaak het –  www.grumblingtummies.com. Julle kan ook  na Voedigsaksie se webtuiste gaan en daar oorweeg hoe om betrokke te raak – www.feedinginaction.co.za
 
Up-Tienerdiens skop op ‘n hoogtepunt af


Die Tieners het Sondagaand se Ek Is reeks afgeskop met ‘n baie opwindende en interessante werkswinkel –  Crossing the line. Wanneer Moses in Eks 3 gekonfronteer word met sy eie  identiteit – ‘n Israeliet wat in die paleis grootword as die Farao se kleinkind, ‘n vlugteling, ‘n moordenaar, ‘n vreemdelig in Midian – is dit sy ontmoeting met God, Ek is, wat sy lewe ingrypend verander. In die Crossing the line werkswinkel is die tieners gekonfronteer met vrae wat hulle laat nadink het oor hulle eie identiteit en hoe ons na onsself en ander kyk. Op punte was hierdie ‘n baie blootstellende oefening, maar aan die ander kant ook bevrydend om te sien daar is ook ander tieners wat soos ek voel, of wat soortgelyke ervarings as ek gehad het.
 
Ons is opgewonde oor ‘n groep van bykans 80 tieners saam met ‘n stewige studentekorps wat as mentors optree wat ons tiener bediening hierdie jaar met baie energie afgeskop het. Ouers, bring asb julle tieners na hierdie byeenkomste Sondagaande wat 18:30 begin en 20:00 klaarmaak.
 
Up-Jeug uitstappie na RUSH
Alle tieners word uitgenooi na ‘n interkulturele uitstappie eenskomende Sondagoggend (5 Februarie 2017) saam met die Jeug van Kayamandi. Ons gaan na die opwindende RUSH  - ‘n Trampolien pretpark in Claremont. Die koste is R125 per kind wat vervoer insluit met bussies. Ons vertrek 9:30 vanaf Kruiskerk. Alle tieners wat saamgaan moet ‘n vrywaringsvorm invul.  Dit kan aanlyn gedoen word by http://www.rushsa.co.za/waiver.html. Amos en Scherlize vergesel die tieners. Inskrywings word by Scherlize gedoen deur haar te Whatsup by 072 844 4771.
 
INLIGTINGSBLAD
Moederkerk is ‘n familie­vriendelike gemeente. Ons rus families toe en skep ruimtes waar ouers en kinders mekaar help om te glo. Ons begelei kinders binne hulle verskillende ontwikkelingsfases in geloofsgroei en –ontwikkeling. Kliek op die volgende skakel om die inligtingsblad met al die verskillende bedieninge aan ons kinders en tieners af te laai.  Jy sal ook die nodige kontakpersone en hulle besonderhede daar kry:
http://www.moederkerk.co.za/wp-content/uploads/2017/01/Jeugbediening-2017.pdf
 
Familiewenk #9
Ons het twee ore en een mond gekry. Hierdie week probeer ons beter na mekaar luister.  LUISTER is die hoogste vorm van respek!
 
Luister is die sleutel wat die hek oopsluit na verdere kommunikasie wat help om gesonde verhoudings in die gesin te bou.  Om empaties te wees is dit nodig om te kan luister
 
Baie ouers het in die tyd grootgeword toe kinders gesien maar nie gehoor moes word nie.  Kinders is toe nie ‘n mening gegun nie.  Vandag besef ons hoe nodig kinders dit het dat hulle ouers hulle hoor en hoe nodig ouers dit het om hulle kinders te hoor.
 
As iemand met volle aandag luister, dra hy twee boodskappe oor: "Ek gee om" en "Jy is vir my belangrik".   Luister beteken om as jou kind met jou praat alles te staak waarmee jy besig is en om by hom of haar te gaan sit. Luister begin dan met ‘n nie-verbale boodskap.
 
Maak oogkontak, let op jou kind se liggaamstaal, stemtoon, gevoel en die inhoud van wat sy sê.  As jy gespanne voorkom of haastig is, sal dit nie werk nie.  As jy konsentreer en jou liggaamshouding wys dat jy belangstel, sal jou kind beleef dat sy gehoor word. ‘n Mens spaar tyd as jy dit doen, want as jy met volle aandag luister sal jou kind haar behoefte stel en klaarkry. As jy met ‘n halwe oor luister terwyl jy besig is met nog ‘n taak, beleef jou kind dat sy nie gehoor word nie en sy sal waarskynlik aanhou neul.
 
Luister is een van die hoogste vorms van respek. Iemand het eendag hierdie treffende opmerking gemaak: We listen people into existence.
 
Praktiese wenke
  • Maak ‘n punt daarvan om hierdie week nie raad te wil gee nie, maar eerder te luister. Wanneer ons net luister, met ons liggaamshouding instemmend is en beaam, kry die ander een dikwels hulle eie antwoorde.
  • Wanneer ons luister, is ons soos ‘n spieël en hoor die ander een hom-/haarself. Hou die week die spieël op vir jou maat en jou kinders.
  • Let op jou liggaamstaal wanneer jy luister. Maak ‘n doelbewuste keuse om met volle aandag te luister – staak dit waarmee jy besig is en kyk die ander die een in die oë as hy/sy praat.
 
Vir meer inligting oor hierdie wenk, kliek op die volgende skakel:
http://www.moederkerk.co.za/familiewenk-9/.
 
 
Gespesialiseerde pastoraat
Indien jy familie- of ouerskapsverwante pastoraat verlang of kwelvrae het, kontak gerus vir Jan van Zyl, ons Familie predikant vir ‘n afspraak by jan@moederkerk.co.za .
 
 
Copyright © 2017 Moederkerk, All rights reserved.


Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list

Email Marketing Powered by Mailchimp