Copy
Lekke djy!
It's Amazing! ZT
Winter 2018

BAIE BAIE dankie aan elkeen wat so getrou vir It’s Amazing! ZT ondersteun deur finansies, gebreide musse, serpe, klere, toiletware, nie-bederfbare produkte, tweedehandse klere, skryfbehoeftes en nog vele meer – net eenvoudig te veel om op te noem.


Ons Facebook bladsy is weer aan die gang, so gaan ‘like’ asseblief ons bladsy en maak sommer jou vriende ook bewus van ons deur die posts te share.  
https://www.facebook.com/itsamazingzt/


‘n Paar nuwe woorde om te leer uit die hartjie van die Kaapse Vlakte

(Ons begin by A en B):


A

  • Abdol, Abdoltjie  - ‘n Manlike karakter in Coloured grappies

  • ag, agga – ‘ek bedoel’ 

  • agtemirrag – namiddag

  • All Pay  - staatstoelae vir bejaardes, kinders en mense met gestremdhede (en kan ek byvoeg dat die bywoning van al ons programme met 80% afneem op hierdie dag? 😊)

  • ammil, ammal  - almal

  • anneste – om anders te wees

  • awe, aweh, ahweh  - wanneer jy saamstem met iemand, of iemand groet, of sommer net as jy niks het om te sȇ nie.

  • Ay, Ai – ‘n Rastafarier


  • bek vekoep  - Nuttelose inligting deel, baie praat 

  • biesag,  besig – nuuskierig wees

  • Bontas  - Bonteheuwel

  • bombela – waar iemand werk

  • Bompie – ysie (gevriese koeldrank in ‘n sakkie) 

  • boom – dagga of dominoes speel

  • bors warm maak – om iemand kwaad te maak

  • bottel – bottel rum, whiskey of brandewyn - ‘Ek gaan vir my ‘n bottel kry’.

  • bourre  - bobene

  • boy'tjie, boy'kie – jong man wat hulp verleen

  • bra, brah, brasse – manlike vriende

  • breek, briek – aanhoudend lag

  • broe, bru, my broe – ‘n aanspreekvorm

  • broke – informele straatverkope

  • Burg - Vredenburg

  • burk, berk – kȇrel (boyfriend)


Liewe It’s Amazing! ZT vriende,

Ek is nie seker hoeveel keer ek hierdie nuusbrief begin skryf het en dan weer alles uitgevee het nie, want wat se mens nou na al die maande wat verloop het vandat ons die vorige nuusbrief uitgestuur het.

Die afgelope maande was vol uitdagings (Lees: geleenthede, soos die slim mense sê) en op elke front was ons as span tot die uiterste beproef. Ook moes ons op ‘n stadium vir mekaar sê dat dit die norm is en dat die gebroke werklikheid is waarin ons onsself bevind.

Wanneer my Loyoloville teachers my bel en sê dat hulle hulleself en die kinders in die wendyhuise moet toesluit, (vir die soveelste keer) omdat daar jong seuns (vanaf die ouderdom van 11) is wat helder oordag met pangas rondloop, of wanneer van die ouers nie eens die moeite wil doen om hulle Babbelbekkie-kinders te was en klas toe te bring nie, dan wil ‘n moedeloosheid mens oorweldig.

Of wanneer die Athwood Primary Arts and Craft teachers my laat weet dat die kinders nie hulle kunswerke kon klaarmaak nie, want al die kinders moes vroeg huis toe gaan omdat Hanover Park weer ‘n oorlogsone is.

Of, soos verlede week, die nuus dat die man wat aan die einde van verlede jaar by ons Babbelbekkieklas in Hanover Park ingebreek het ‘n kerk wou beroof en toe doodgeslaan is deur die buurtwag.

Die gebrokenheid is soms meer as wat ons kan hanteer, soveel dinge wat in die pad staan om die gemeenskap te dien. Tog sien ons wonderwerke (baie daarvan) en weet dat ons ‘n groot en goeie God dien wat elkeen van ons ten diepste ken en liefhet.

Tog kon ek nie help om terug te kyk oor die afgelope 7 jaar nie en dit was alles te danke aan Facebook wat mens se ‘memories’ van tyd tot tyd oproep en jou herinner aan wat was. Nostalgie en dankbaarheid het my oorval. Ek deel ‘n paar memories met die fotos.

Baie dankie vir elke email, Whatsapp boodskap, gebed en telefoonoproep van bemoediging. En weereens baie dankie vir al die ander maniere waarop julle ook vir It’s Amazing! ondersteun.

Wat sal ek sê na dié briefie -  awe, agga, of bek vekoep? Kom ek sê maar net kannallah, kwaailappies en shukaran (asseblief, amazing en dankie).


Seënwense

Lisa


Eddie


Ek het Eddie as 4-jare seuntjie ontmoet waar hy aan die heel begin ons ‘hot chocolate’ kerk op Donderdagaande bygewoon het. Hy het altyd in sy verslete pajamas daar aangekom en dit het hom niks gepla nie. So twee jaar gelede het Eddie al hoe minder begin glimlag en nou, op 11-jarige ouderdom gaan hy so knit one, slip one, skool toe en is deel van ‘n groepie wat gereeld by die laerskool inbreek. Eddie bly my hart se punt en my kollega, Marelise, het besluit om hom vir my te verewig met ‘n asemrowende skildery in my kantoor.


Links: Eddie met sy skaam glimlag.
Middel: Eddie, 7 jaar terug met die neon groen mussie.
Regs: Die groen perdjie was al die kinders se gunsteling en hier is Eddie op die perd vir sy 5 minute rit.


Links: Eddie wat nie skaam is om drukkies te gee nie – hierdie was tydens ‘n Kersfeespartytjie by Jump Around trampoline kersfeespartytjie.
Middel: Ek en Eddie so 3 weke gelede.
Regs: Marelise se skildery van Eddie wat in my kantoor hang.


Ek het baie hoop vir Eddie en vir elke ander kind wat ons pad kruis. Sonder geloof, hoop en liefde is ons niks.



Die kinders word groot

Vergeef my as ek effens sentimenteel is...


Badsberg Close se huis 7 jaar gelede – daar is nie eens ‘n stukkie gras in sig nie en  Tharwat wat daar vir my so ‘n lekker drukkie gee is nou ‘n tienermeisie wat nie eintlik meer drukkies gee nie. My frons sê alles – ek was oorweldig en sonder visie en plan vir It’s Amazing! ZT.







 

 







 

Klein Ashura en antie Jeanette het my net weer
laat besef dat ‘n mense se lewe in ‘n oogwink kan
verander (sien terugvoer oor Ashura onder)


"Every child is an artist.
The problem is how to remain an artist once we grow up."

                                                             –Pablo Picasso


nKunsklasse vir die ‘Teachers’


By ons Arts and Crafts klasse in Hanover Park en Gugulethu val die klem op ‘saam’. Die teachers leer saam met die kinders, sukkel saam, lag saam en wees saam bly oor die eindproduk.

Marelise en Louise Slabbert (Kunsonderwyseres by Dunatos Remediërende Skool), het ingewillig om die teachers bietjie touwys te maak in ‘n paar basiese dinge sodat hulle dit weer vir die kinders kan leer.

Die teachers leer prakties verskillende tegnieke.

Die teachers spog met hul pragtige kunswerke.

Die Arts & Crafts kinders van Athwood Primary met hul kaartjies wat hul vir Vadersdag gemaak het (links), en waar hulle besig is om colour mixing chart te maak (regs).

 

Ons is baie opgewonde oor hierdie klasse en ek glo dat ons nog groot hoogtes gaan bereik met die kinders se talent.


“The purpose of art is washing the dust of daily life off our souls."

– Pablo Picaso


Hoekom is kuns belangrik?


Kinders wat dikwels sukkel in ander leerareas presteer in die kunsklas. Kuns bevorder die kreatiewe, intelektuele, emosionele en sosiale ontwikkeling van die kinders.  Dit het groot terapeutiese waarde.

Dit help ons om te ontdek dat ons almal indiwidue is en dinge verskillend interpreteer. Die kinders moet hulself nie met 'n ander vergelyk nie. En oorspronklikheid moet aangemoedig word.  Met die bewusmaking van lyn, vorm, kleur, patroon, ritme, balans, ens. gaan `n nuwe wêreld vir hulle oop. 

Kinders leer hoe om sistematies en stap vir stap te werk. Die vreugde lê in die kreatiewe proses en `n pragtige produk is net `n bonus. 
 
Leerders leer om detail waar te neem. Ter selfde tyd help dit ook met die ontwikkeling van hul verskillende sintuie.

Almal moet leer om op te ruim waar hulle gewerk het en om respek te hê vir die materiaal, die omgewing en vir mekaar. 

Visuele kuns help 'n kind om die verhouding tussen jou as mens en die omgewing rondom jou beter te verstaan.

- Louise

“There are two distinct languages. There is the verbal, which separates people…
and there is the visual that is understood by everybody."

– Yaacov Agam


'n Geleentheid om 'n verskil te maak


Kinders wat na It's Amazing! ZT se Arts & Craft klas toe kom kry nie net kreatiewe stimulasie nie, maar ontvang ook 'n broodjie en 'n vrug.

Die voltooide produkte neem die kinders met groot trots huis toe.

Deur 'n skenking van slegs R50 per maand - kan jy 'n kind help om die deelname moontlik te maak .



Na ‘n jaar is Ashura uiteindelik by die huis.

Die uitdagings is baie.


Een van Tasneem se dogtertjies, Ashura (8), is 22 Julie 2017 omgestamp deur ‘n bakkie en in ‘n kritieke toestand in Rooikruis Hospitaal opgeneem. Sy het baie ernstige hoofbeserings opgedoen.
 
Nou, ‘n jaar later is Ashura terug by die huis. Sy was vir maande in Rooikruis Hospitaal, maande in St Josephs Kinderhospitaal en het later naweke huis toe gekom. Tans is Ashura by die huis en Tasneem is verantwoordelik vir haar versorging. Dit gaan beter met Ashura, alhoewel sy 24-uur versorging nodig het (sy kan nie praat, eet of loop nie).
 
Bid asseblief vir Tasneem en ook vir haar ander drie dogtertjies (Jamielah, Asieka en Iptishaam).


Links: Tasneem saam met Ashura.
Middel: Ashura kommunikeer met behulp van die prentjies op haar 'Buggy'.
Regs: Die 4 sussies vroeёr vanjaar.



Borg 'n Babbelbekkie


Met die uitbreiding van ons Babbelbekkie klasse het ons nog ondersteuning van individue nodig (sien inligting onder). Ek weet baie van julle borg alreeds ‘n Babbelbekkie, maar dit sal wonderlik wees as julle familie en vriende ook van hierdie inisiatief kan vertel. Dit hoef nie die volle R 150 per maand te wees nie, elke rand by ons maak ‘n groot verskil en almal wat betrokke is by It’s Amazing! ZT weet hoe om die rande baie ver te rek. Eenmalige donasies is ook fantasties.


Baie dankie vir die wat alreeds ondersteun, maak dit asb by jul vriende; familie; bybelstudiegroep en kerk ook bekend.


Email
It's Amazing! ZT Facebook page
Website - It's Amazing! ZT

Banking Details


Bank Name:  ABSA
Name: Zoe Trust 
Account Number: 9222071195 (Savings Account) 
Branch Code: 632005 

Swift-Code: ABSA ZA JJ
Public Benefit Organisation – PBO 930 028 203 
Non Profit Organisation –  153-985 NPO

 

 







This email was sent to <<Email Address>>
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
Zoe Trust · 5 Orange Street · PO Box 910 · Parow, Cape Town 7500 · South Africa

Email Marketing Powered by Mailchimp