Boere moet vee inent
Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het eienaars van beeste, skape en bokke herinner om hul diere teen Slenkdalkoors in te ent.
Die onlangse goeie reën wat in sekere gedeeltes van die land voorgekom het sal lei tot ‘n toename in die aantal muskiete wat die siekte oordra. Slenkdalkoors is ‘n ernstige virale siekte wat deur muskiete versprei word en aborsies en mortalitiete in jong beeste, skape en bokke veroorsaak. Mense wat in kontak met die bloed of ander vloeistowwe van die diere kom, kan ook Slenkdalkoors ontwikkel.
Boere word daarom aangeraai om alle beeste, skape en bokke teen die siekte in te ent, veral in dié gebiede waar reën onlangs voorgekom het. Die lewendige enstof kan net in nie-dragtige diere gebruik word, aangesien dit aborsies veroorsaak.
Indien daar enigsins vermoed word dat Slenkdalkoors voorkom, moet dit onmiddellik by die naaste Staatsveearts aangemeld word.
|