Copy
Somerstrand Gemeente Nuusbrief
View this email in your browser

AGTERGROND


Op 5 Maart 2020 is bekendgemaak dat die eerste persoon in Suid-Afrika positief getoets het vir COVID-19, 'n nuwe virus in die Coronagroep. Dis nou nog nie twee weke later nie en die situasie het reeds drasties verander, in die lig van pres Cyril Ramaphosa se nuuskonferensie gister op 15 Maart.

Ons moet rekening hou daarmee dat hierdie virus nie oornag gaan verdwyn nie. ’n Paar maande se ontwrigting lê voor, selfs met die beste maatreëls wat ook by ons landwyd getref word.
 

NASIONALE RAMPTOESTAND

 
Hier is 'n opsomming van die belangrikste reëlings wat die regering afgekondig het (Hier is 'n skakel na die volle toespraak van die president):
  1. ’n Nasionale ramptoestand word afgekondig ingevolge die rampbestuurswet.
  2. Reisbeperkings geld na hoërisikolande vanaf 18 Maart 2020.
  3. Suid-Afrikaners word aangeraai om nie na hoërisikolande te reis nie. 
  4. Byeenkomste van meer as honderd mense word verbied.
  5. Groot byeenkomste en feesvierings word gekanselleer.
  6. Die skole is gesluit van Woensdag 18 Maart tot ná die Paasnaweek.
  7. Noue samewerking met universiteite, kolleges ensovoorts om higiëne en ander toepaslike maatreëls in te stel. (Talle universiteite het reeds begin om klasse op te skort en koshuise te sluit)
  8. Maatskappye word gevra om maatreëls in te stel om higiënebeheer te verbeter.
  9. Waarneming- en toetsstelsels word by hospitale versterk.
  10. Samewerking met die private sektor om ’n stelsel te ontwikkel waarmee diegene wat deur die virus besmet is, nagespeur en gemonitor kan word.
  11. ’n Beroep op almal om persoonlik te let op higiëne en mekaar met die elmboog te groet.
  12. Staatspakkette om die ekonomiese impak van die virus te beperk.
  13. Die sameroep van ’n nasionale opdraggewende raad onder voorsitterskap van die president wat drie keer per week bymekaar sal kom. (Netwerk 24)
 

BYEENKOMSTE VAN MEER AS 100 MENSE WORD VERBIED


Wêreldwyd begin regerings groter byeenkomste ontmoedig om verspreiding van die COVID-19 virus te bekamp. Dit is dan ook die belangrikste maatreël van die regering wat ons gemeente direk sal beïnvloed. Byeenkomste van meer as 100 mense word summier verbied. Vir 30 dae lank.

Ons kan ook baie leer by ander kerke in die wêreld se hantering hiervan. Hier is ‘n insiggewende artikel daaroor.

Gemeentes in Suid-Afrika reageer landwyd op verskillende maniere. Sommiges deel die gemeente in groepe op en sorg dat die getalle nie 'n 100 oorskry by 'n byeenkoms nie. 

Die dagbestuur het egter kennis geneem dat die enigste effektiewe bekampingsmetode vir die virus se verspreiding self-isolasie is. Jy kan hier meer lees in 'n uitstekende artikel wat in die Washington Post gepubliseer is. Kyk spesifiek na die groot verskil as 'n gemeenskap dit kan regkry om tussen 75% en 87,5% van die mense sover te kry om te self-isoleer.

Die eerste berig van 'n geval in Port Elizabeth is ook reeds gister gepubliseer en St Dominic’s Priory School het vandag sy deure gesluit nadat ’n ouer van die skool direk in kontak was met iemand wat positief vir die Covid-19 virus getoets het.

Dit beteken dat ons regtig nie kanse wil vat en lidmate blootstel aan die moontlikheid om die virus by iemand by 'n byeenkoms te kry nie.

Hier volg nou die eerste rondte reëlings wat ons tref. Ons sal dit waardeer as gemeentelede reageer met voorstelle wat die impak hiervan kan versag en ook ons voorstelle verbeter.
 

PLAN VAN AKSIE

 
  1. Alle normale byeenkomste van die gemeente word afgestel tot en met Paassondag 12 April. Dit sluit eredienste, Bybelskool, kleingroepe, kategese en enige ander diensgroep in.
  2. Eredienste sal digitaal gehou word. Detail volg binnekort. Inskakeling sal per video, klank, en teks wees via ons onderskeie platvorms: Webtuiste en Facebook en ander.
  3. Kleingroepe kan onderling reël of hulle in huise gaan bymekaar kom – indien die nodige voorsorgmaatreëls getref is. Onthou egter dat julle Skype of Zoom kan gebruik met die materiaal wat soos gewoonlik op die webtuiste sal verskyn. Gebruik julle diskresie wys.
  4. Kategese groepe gaan nie bymekaar kom. Ons moedig ouers aan om steeds tuis voort te gaan met die materiaal wat ons verskaf. Onthou die Odos toep! Daar is wonderlike materiaal wat jy saam met jou kinders kan geniet.
  5. Alle ander groepe kan vergaderings hou via Skype of Zoom.
  6. Pastorale ondersteuning sal steeds verskaf word. Bel vir Chris direk (0824749191).
  7. Die Eenjaar Bybelleesprogramme sal steeds voortgaan per Whatsapp.
  8. Dankoffers en kollektes sal net deur EFT ingesamel word: NGK Somerstrand, Absa (632005) 1008731388.
Dit is 'n tyd wat besondere uitdagings gaan stel aan ons. Vir 'n tyd lank gaan kerk beteken dat ons ons geloof in huise en in kleiner groepe beoefen. Soos die eerste Christene gewoond was om te doen!
 

BASIESE RIGLYNE


Hier is 'n paar verdere basiese riglyne vir gemeentelede.

As geloofsgemeenskap het ons 'n spesiale roeping om ons mede-gemeentelede te versorg en die gemeenskap te ondersteun in hierdie tyd (met dank aan Ferdinand Niekerk van NGK Vryheid) .
  1. Moenie valse gerugte versprei en op hol raak oor die virus nie.
  2. Sorg dat jy ingelig is. Gebruik die skakels in hierdie kommunikasie.
  3. Moet jou nie ontstel nie. Woon en werk rustig voort, vertrou die Here en doen wat jy kan doen (Ps 37).
  4. Goeie higiëne help baie om die verspreiding van die virus te beperk, maar ook om verkoues en griep, te voorkom.
  5. Was gereeld jou hande met seep en water vir ten minste 20 sekondes.
  6. Nies of hoes in die hoek van jou elmboog of sneesdoekie, nie in jou hand nie.
  7. Was onmiddellik jou hande nadat jy gehoes, genies of neus geblaas het.
  8. Moenie aan jou gesig, veral jou mond, neus en oë, raak met ongewaste hande nie.
  9. Ontsmet oppervlaktes wat gereeld aangeraak word, insluitend sleutelborde, tafelblaaie, hysbakknoppies en deurknoppe.
  10. Gebruik ‘n handontsmetingsmiddel.
  11. Vermy noue kontak met iemand wat siek is.
  12. Voel vry om in plaas van mekaar te omhels, of hand te skud, met jou kop te knik of met jou hand op jou hart te buig. Die “elmboogskud” laat 'n mens nog te naby aan mekaar kom.
  13. Voordat jy iemand omhels, vra eers toestemming uit respek vir mekaar. 
  14. Probeer om genoeg spasie te hou tussen jouself en ander mense, ten minste 2 meter.
  15. Indien jy onderliggende gesondheidsprobleme het, of bo 60 jaar oud is, oorweeg om eerder nie risiko’s te loop om 'n infeksie op te doen nie. Bly dan eerder tuis.
  16. Die koronavirus (COVID-19) is 'n respiratoriese siekte wat griepagtige simptome veroorsaak, insluitend koors, braking en asemhalingsprobleme (hier is 'n beskrywing daarvan). As jy een van hierdie simptome het, bly asb tuis.
  17. Moenie reis terwyl jy siek is nie.
  18. Vermy dan kontak met ander.
  19. Kry mediese hulp. Bel vooraf, voordat jy na 'n dokter of 'n noodgevalle eenheid gaan. Vertel hulle van enige onlangse reise en jou simptome.
  20. Laat weet asb as ons as gemeente jou kan bystaan. Jy kan vir Liésl by die kerkkantoor bel (0415835115) of e-pos (ngksomer@global.co.za) of vir Chris bel (0825749191) of e-pos (acv.vanwyk@gmail.com).
Kom ons bid en werk met liefde saam om steeds gemeente van die Here Jesus in Somerstrand te wees te midde van die uitdaging. Gebruik die situasie om jou buurmense te leer ken en gereeld te hoor of jy met iets kan help. Dink veral aan mense wat ouer is en meer hulp sal benodig.
 

LIG JOUSELF IN


Die Departement van Gesondheid het 'n uitstekende inligtingsdiens op Whatsapp geskep sodat ons ingelig kan bly oor COVID-19. Stoor die nommer 0600 123456 op jou selfoon en stuur 'n Whatsapp boodskap "Hi" om boodskappe te ontvang.
 
Jy kan daar meer direkte inligting kry oor Nuus, Mites, Voorkoming, Simptome, Behandeling, Risko's, Reis, en Toetsing.

Jy kan ook hier meer inlgting oor die virus self kry by die SA Departement van Gesondheid.

Jy kan hierdie inligting in 'n pdf dokument aflaai en versprei: COVID-19 Plan van aksie in NGK Somerstrand.
Copyright © 2020 NGK Somerstrand, All rights reserved.


unsubscribe from this list    update subscription preferences 

Email Marketing Powered by Mailchimp