Copy
Welkom by Desember 2018 uitgawe van die Rooivleis Produsente Organisasie Nuusbrief 
View this email in your browser

 

Veediefstal: Tyd om jou kant te bring


Die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum versoek dat alle rolspelers in die rooivleisbedryf dringend ‘n aktiewe rol in die voorkoming van veediefstal begin speel. Die algemene publiek word ook versoek om behulpsaam te wees in dié verband.
 
Die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum het onlangs sy vergadering gehou waartydens die uitdagings wat die strafregstelsel en alle rolspelers wat betrokke is by veediefstal in Suid-Afrika in die gesig staar, bespreek is.
Lees meer ...

Federasie ten gunste van heffing


Die Suid-Afrikaanse Federasie van Rooivleisprodusente het onlangs ‘n vergadering in Pretoria gehou.
 
Die Federasie stem nie saam met ‘n persverklaring van die Vereniging van Vleisinvoerders en –uitvoerders (AIME) wat hom uitspreek teen die heffing van 35,3% wat volgens die Staatskoerant op ingevoerde hoendersnitte met die been in gehef gaan word nie.
  
Volgens AIME beskou Europa die heffing, wat ingestel is om die plaaslike pluimveebedryf te beskerm, as ‘n aansienlike terugslag vir die preferensiële handelsooreenkomste wat dit tans met Suid-Afrika het. Dit sal ook ‘n negatiewe impak op die Suid-Afrikaanse verbruikers hê wat reeds sukkel om kop bo water te hou, volgens die persverklaring.
  
AIME voel die plaaslike pluimveebedryf is hoogswinsgewend en enige beskerming is dus onnodig.
  
Die Federasie ondersteun die heffing.
  
Die Federasie is ook tevrede met die voorgestelde konsepregulasies op sekere rooivleisprodukte ingevolge die Landbouprodukstandaardewet, 1990.

Droogtehulp steeds krities nodig


Die droogtetoestande in die meeste dele van die land het steeds ‘n erge impak op die volhoubaarheid van baie plase. Landbouers in die Noord-, Wes-, Oos-Kaap en Limpopo gaan steeds onder die voortslepende droogte gebuk.
 
Agri SA doen opnuut ‘n beroep op Suid-Afrikaners om tot Agri SA se droogterampfonds by te dra op enige moontlike manier. Bydraes van voer, diesel, vragmotors en finansiële donasies is gemaak en bly welkom. Sedert 2015 het duisende landbouers en plaaswerkers uit die fonds voordeel getrek – dié gemeenskappe het al die hulp nodig wat ons kan gee.
Lees meer ...

Vleiseters is gesonder


Vegetariërs is nie so gesond soos vleiseters nie, al drink en rook hulle minder en is hulle fisies meer aktief as hul karnivoriese eweknieë, was die slotsom waartoe daar gekom is ná ‘n kontroversiële studie oor die onderwerp gedoen is.
 
Die studie is deur die mediese universiteit van Graz in Oostenryk gedoen en daar is bevind dat ‘n vegetariese dieet wat gekenmerk word deur ‘n lae inname van versadigde vette en ‘n hoër inname van vrugte, groente en volgraanprodukte skynbaar verhoogde risiko’s inhou om kanker, allergieë en geestesgesondheid soos depressie en angstigheid op te doen.
Lees meer ...

Brusellose bedreig die rooivleisbedryf


Beesbrusellose, ook bekend as besmetlike misgeboorte, is geïdentifiseer as die grootste enkele bedreiging vir die rooivleisbedryf, met die uitsondering van bek-en-klouseer. Wat dié siekte nog gevaarliker maak is dat dit ‘n soönose is, dus is dit aansteeklik vir mense ook.
 
Omdat brusellose aborsies by beeste veroorsaak, het dit ‘n ernstige uitwerking op kalfpersentasie en die doeltreffendheid van die beesbedryf en alle beesboere moet hul deel doen om die siekte uit te wis.
Lees meer ...

Weer maak dit moeilik vir boere om te beplan


Een van die kenmerkende eienskappe van Suider-Afrikaanse reënval is die hoogs veranderlike aard daarvan, wat dit vir boere baie moeilik maak om te beplan, volgens ABSA Agribesigheid se 2018-lentevooruitskouing.
 
Daarbenewens is die volgorde van opeenvolgende droër en natter seisoene ook problematies, met streke wat soms ondergemiddelde reënval ervaar vir vyf of meer agtereenvolgende jare, veral in droër provinsies. Dit kan ‘n verwoestende effek op boerdery-aktiwiteite en finansiële volhoubaarheid hê. Teen die einde van Junie 2018 het voorspellings ‘n meer as 50% waarskynlikheid aangedui vir die voorkoms van ‘n El Niño-verskynsel wat na verwagting sal duur vanaf winter/lente 2018 tot herfs 2019.
Lees meer ...

Beesvleisproduksie sal groei


Globale beesvleisproduksie sal na verwagting in 2018 marginaal groei, hoofsaaklik as gevolg van verhoogde produksie in Brasilië, die VSA en Argentinië, volgens ABSA Agribesigheid se 2018-lentevooruitskouing.
 
Produksiegroei in Brasilië word gedryf deur hoër karkasgewigte, sterker binnelandse vraag en rekorduitvoere.
  
Droogtetoestande in die VSA het ook gelei tot ‘n toename in die slaggetalle. Sommige beesboere in die VSA mag gedwing word om hul kuddes te likwideer as die weersomstandighede nie verbeter nie, wat sal lei tot verdere stygings in die globale aanbod.
Lees meer ...

Perspektief


Is al die argumente teen veeboerdery geregverdig?
 
Oral in die wêreld word slegs die negatiewe beklemtoon in debatte ten opsigte van die toekoms van veeboerdery. Die debatte konsentreer op kweekhuisgasse (KHG), gebruik van hulpbronne en grond, industrialisasie van stelsels, ontbossing ens. Ook is mense bekommerd oor dierewelsyn en etiek en in uiterste gevalle word sterk uitsprake gemaak teen slag en uitbuiting van plaasdiere. Sulke aktiviste beywer hulle selfs vir die wegdoen van veeboerdery vir ‘n beter planeet en omgewingsvriendelike landbou.
Lees meer ...
Laai u elektroniese weergawe van die Rooivleistydskrif hier af
Share
Tweet
Forward
Laai u PMF nuusbrief hier af ...

Veilings in Desember

Gebruik van dié apparaat is verbode


Die gebruik van die callicrate bander om volwasse bulle te kastreer is nie ‘n goedgekeurde praktyk in Suid-Afrika nie en die Lewendehawewelsynkoördineringskomitee (LWCC) doen ‘n beroep dat die gebruik daarvan nie geadverteer, aangemoedig of gepubliseer word nie, behalwe vir doeleindes om te voorkom dat dit gebruik word.
 
Die gebruik van die callicrate bander het sy oorsprong in Amerika en daar is mense wat dalk kan aanbeveel dat dit in Suid-Afrika gebruik word, het die LWCC in ‘n persverklaring gesê.
Lees meer ...

Navorsingsprojekte voltooi


‘n Lys van die voltooide navorsing- en ontwikkelingsprojekte wat deur Rooivleisnavorsing en -Ontwikkeling SA onderneem is, is aan die Suid-Afrikaanse Federasie van Rooivleisprodusente voorgelê.
 
Die volgende projekte is in 2018 voltooi :-
  • Die uitwerking van verkoeling en elektriese stimulasie op die vleisgehalte- eienskappe van geselekteerde beesrasse met verskillende karkasgewigte.
  • Stres voor slagting, diere-verwante faktore, stres biomerkers, nanao-struktuur en tegnologiese eienskappe van beesvleis.
Lees meer ...

AGRI SA veroordeel aanbeveling om die grondwet te verander


Agri SA het die volgende fase van sy taktiese plan teen onteiening sonder vergoeding (OSV) afgeskop.
 
Die aanbeveling van die Konstitusionele Hersieningskomitee oor die wysiging van artikel 25 bots lynreg met die kritieke oogmerke van die beskerming van eiendomsreg, ekonomiese stabiliteit, werkskepping, beleggersvertroue en volhoubare landbouhervorming.
  
Lees meer ...

Amerikaanse beesboere aangemoedig om naspeurbaar-heidstelsels te ontwikkel


Beesboere wat nalaat om ‘n naspeurbaarheidstelsel in te stel mag uiteindelik sukkel om hul produk te verkoop, het ‘n veearts in Amerika gewaarsku.

Dr Christine Navarre sê so ‘n stelsel is nodig om siekte-uitbrekings te beheer en omdat verbruikers wil weet waar hul kos vandaan kom.
  
Sy sê dit sal ‘n markvereiste raak omdat dit is wat die publiek vereis.
  
Een koei met malkoeisiekte het in 2003 die mark $4 biljoen gekos en dit het ‘n week geneem voor die oorsprong van die koei bepaal kon word.
  
Met ‘n naspeurbaarheidstelsel sal beesboere kan bewys dat hul diere nie in kontak met ‘n besmette koei was nie. Sodoende sal daar minder beperkings op die beweging van diere wees as ‘n siekte soos bek-en-klouseer uitbreek. Soos wat sake nou staan, is die moontlikheid groot dat diere in kwarantyn geplaas sal moet word.
  
Amerika het ‘n nasionale naspeurbaarheidwerksgroep aangestel om die saak te ondersoek en ‘n eenvorming stel riglyne te ontwikkel.
Bron : https://www.beefmagazine.com/management/cattle-producers-encouraged-adopt-traceability-systems

Ekonomie groei steeds teen ‘n lae tempo


Verbruikers sal na verwagting toenemend armer word aangesien Suid-Afrika se ekonomie steeds teen ‘n lae tempo groei, terwyl verbruikersprysinflasie verhoog, volgens ABSA Agribesigheid se 2018-lentevooruitskouing.
 
Die M3-geldvoorraad, wat kontant en krediet insluit, sal ook toeneem. Dit dui daarop dat verbruikerskuldvlakke aan die groei is. Groei in die Bruto Binnelandse Produk (BBP) sal na verwagting in 2019 tot 1,2% daal, vergeleke met die verwagte groei van 1,7% in 2018. Daar word egter verwag dat dit in 2020 en 2021 onderskeidelik tot 2,1% en 2,2% sal styg.
Lees meer ...

China is die wêreld se grootste skaapvleis-produsent

China is die wêreld se grootste produsent, verbruiker en invoerder van skaapvleis, volgens ABSA Agribesigheid se 2018-lentevooruitskouing.
 
Die uitvoermark is baie gekonsentreerd en word tans oorheers deur Australië en Nieu- Seeland, wat ook die tweede en derde grootste skaapprodusente ter wêreld is. Produksie in hierdie twee lande het in 2017 marginaal gedaal, hoewel droër toestande in Australië gedurende die 2017/2018-seisoen gelei het tot hoër slagsyfers.
Lees meer ...

Plaaslike beesvleispryse mag herstel


Internasionaal kan die seisoenale verslapping in die vraag na beesvleis in Amerika ‘n demper op die mark plaas, volgens ABSA Agri Trends.
 
Plaaslik was pryse tydens die week van 23 November gedemp weens ‘n verlaagde aanbod in die middel van die maand.  Plaaslik mag pryse in lyn met seisoenale neigings herstel aangesien daar tydens die feesseisoen gewoonlik ‘n hoër vraag is.
Lees meer ...

Internasionale skaapvleispryse sal stewig bly in 2019


Internasionaal sal die stewige vraag na skaapvleis en beperkte voorrade pryse na verwagting in 2019 verstewig, volgens ABSA Agri Trends.
 
Plaaslik behoort skaapvleispryse oor die kort termyn in lyn met seisoenale neigings en ‘n verhoogde vraag te herstel ondanks die feit dat dit in die afgelope weke gesukkel het om te styg.

Internasionaal
Nieu-Seelandse skaap- en lamsvleispryse het tydens die week van 23 November sywaarts en hoër geneig vergeleke met die vorige week. Lamspryse het sywaarts beweeg teen NZ$7.95/kg. Ooipryse het 1.0% hoër verhandel teen NZ$4.98/kg.
 
Die invoerparitietsprys van lam was 0.7% laer teen R83.95/kg, terwyl die invoerpariteitsprys van skaapvleis 0.2% hoër was teen R56.84/kg.
 
Plaaslik
Lam- en skaapvleispryse was gemeng in vergelyking met die vorige week. Lamspryse was as volg: Die nasionale gemiddelde Klas A-karkasprys het met 0.6% gedaal tot R71.50/kg en die gemiddelde Klas C-karkasprys het 0.03% gedaal tot R61.62/kg.
 
Die gemiddelde prys van voerlammers het 1.2% laer verhandel teen R40.67/kg.
 
Die gemiddelde prys van dorper-velle was 1.1% laer teen R30.78/vel en merinos was 5.9% laer teen R91.28/vel

 Ons epos adres is
Posbus 132
Persequor Park
0020


Ons webtuiste is:
www.rpo.co.za
 
Neem asseblief kennis hierdie e-pos is nie gemorspos nie. Dit is ’n nuusbrief van die RPO aan u, die gewaardeerde rooivleisprodusent 
kanselleer intekening | dateer u inligting op 

Copyright © 2016 Red Meat Producers Organisation, All rights reserved.






This email was sent to <<Email Address>>
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
Red Meat Producers Organisation · 318 The Hillside · Lynnwood · Pretoria, GP 0204 · South Africa