Beste Kerugma Ondersteuner,
‘n Sekere man wat aan ons voorgestel word as “die Ryk Man” omdat dit die belangrikste kenmerk van sy lewe was, het op ‘n dag die hemelpoorte genader, maar is weggewys.
Hy is nie toegelaat om die hemel in te gaan nie. Daar was net een ander opsie, naamlik Hades of die plek van smarte. Vandaar het hy Abraham van ver af gesien en by hom gepleit, “Vader Abraham, wees my barmhartig, en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.”
Wat ‘n skok moes dit nie wees om wakker te word in ‘n plek waar jy nooit verwag het om te beland nie! En daardie lot wag vir baie mense wat nou nog op aarde is. Petrus sê in 2 Petrus 2 “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg; en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel lankal nie werkloos nie, en hulle verderf sluimer nie”.
Petrus praat nie hier van mense buite die kerk nie, nee hy praat van mense in die kerk. Van spesifieke geestelike leiers in die kerk. Leiers wat bekend is as leraars van hulle kudde. En dit is presies waaroor ons baie bekommerd is. Jesus het gesê, “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Matt. 16:24) [1953 Vertaling]. Tog is daar diegene wat vandag ‘n ander evangelie verkondig. ‘n “Evangelie” wat onder meer sê dat Christene van die Here kan vra net wat hulle begeer en dit sal vir hulle gegee word. Dit klink baie meer soos die woorde van Satan wat, toe hy Jesus op ‘n hoë berg geneem het en Hom al die koninkryke van die wêreld gewys het, vir Hom gesê het, “Al hierdie dinge sal ek aan U gee as u neerval en my aanbid” (Matt. 4:8).
|
|
|
|
Misleiding in die kerk is nie iets wat ons ligtelik kan opneem nie. Dit is baie ernstig. Dit kan die ewige verdoemenis in die hel met Satan beteken terwyl ons houtgerus die ewige lewe in die hemel met God verwag het. Juis daarom is ons baie dankbaar dat ons hiermee die nuutste DVD deur Dave Hunt kan bekendstel. Dit is die nuutste, maar ook, na ons wete, die laaste van hom wat vrygestel sal word. Alhoewel dit nou eers etlike jare na sy dood vrygestel word, is die boodskap daarvan nou selfs meer relevant as toe ons dit destyds afgeneem het. Dit is die laaste een wat ons by Kerugma Produksies nog gehad het om te redigeer. (Ek het hierdie laaste DVD deur Dave Hunt geredigeer terwyl Naas steeds besig is om al die beeldmateriaal wat ons gedurende die toere verlede jaar afgeneem het, uit te sorteer en te groepeer in projekte wat as DVD’s geredigeer kan word).
|
|
|
|
|
Alhoewel hierdie DVD van Dave Hunt reeds in 1999 verfilm is, kan dit dalk die belangrikste van sy DVDs word. Die DVD word genoem FAITH.
Jesus het in Lukas 18:8 gevra, “… maar as die Seun van die Mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind”?
Dave Hunt wys uit dat baie kerkleiers, in hulle ywer om mense vir Christus te wen, in die versoeking is om die Bybelboodskap aan te pas om dit meer aanvaarbaar te maak.
As ‘n voorbeeld hiervan ontbloot hy die fondasie van ‘n “Beweging” wat die Christen Kerk binnegdring het, tot so ‘n mate dat baie misterieuse leringe aanvaar en beoefen word. Hierdie DVD verduidelik nie alleen die oorsprong en inhoud van die kultiese leerstelling nie, maar wys ook duidelik dat wat deur baie van die kinders van die Here vandag geglo word, eintlik die spontane voortvloeisel is van ‘n duiwelse leerstelling wat die Christelike geloof binnegedring en deursuur het. Dave Hunt verduidelik baie mooi dat die voorstanders van hierdie leringe valse profete is wat die kerk mislei soos wat Petrus voorspel het in die verse hierbo genoem. Die kultiese beweging wat Dave Hunt ontbloot in die DVD as die bron van hierdie misleading is die New Thought Movement. New Thought het weer gelei tot die ontstaan van verskillende ander bewegings. Die geskrifte van E.W. Kenyon bied baie van die New Thought leringe. Die Vader van die Word of Faith beweging, Kenneth Hagin, het plagiaat gepleeg deur baie van hierdie misleidende kultiese leringe van Kenyon woordeliks net so in sy eie geskrifte te dupliseer. Hierdeur het die New Thought leringe die Christelike Kerk binnegedring en is sedertdien besig om dit te deursuur.
Volgens ons ervaring wil baie mense die duidelike waarskuwing van Dave Hunt in hierdie DVD nie ter harte neem nie omdat hulle eerder dit wat ‘n gemaklike lewe aan hierdie kant van die graf verseker, najaag.
Die boodskap van hierdie nuwe Dave Hunt DVD, “FAITH”, is iets wat elke kind van die Here vandag behoort te sien. Dit is beskikbaar op ons webtuiste as fisiese DVD of u kan dit aanlyn kyk by www.kerugma.org Die laaste deel van die DVD bestaan uit baie interessante antwoorde op vrae, soos byvoorbeeld hoekom ons die dag van die Here op Sondag hou en of daar enige waarde in Sielkunde is. Moet ook asseblief nie vergeet om gereeld ons webtuiste te besoek nie. Ons is besig om meer en meer DVDs op te laai vir u om in die digitale formaat te kry en dit sodoende goedkoper te kry en ook om posgeld en tyd te bespaar.
Ons groet u in die wonderlike Naam van ons Here Jesus Christus,
Marina le Roux
PS.: Bid asseblief dat Dave Hunt se DVD “FAITH” sy pad sal vind na die huis van elke persoon wat die boodskap nodig het. Bid asseblief ook vir elkeen wat dit kyk, aangesien dit vir sommige ‘n wrede ontnugtering mag wees om die waarheid te ontdek.
|
|
|
|
|