Copy

KERUGMA Bulletin                      View this email in your browser
www.kerugma.org
Tel. 0861 786 831

Beste Kerugma Ondersteuner,

In die laaste Kerugma Bulletin het Marina Dave Hunt se DVD, “FAITH”, bekend gestel.

U kan wel vra waarom is dit nou, na 20 jaar, dat ons dit eers vrystel? En waarom is dit so belangrik dat ‘n mens dit moet sien?

Ek skryf nou ook vir u oor hierdie DVD want ek wil graag verduidelik hoe dit gekom het dat dit nou eers vrygestel word, 20 jaar nadat ons dit afgeneem het.

Verder skryf ek om te sê hoekom ek glo dat dit regtig belangrik is dat elkeen wat dit nog nie gesien het nie, dit wel sal doen.
 
R99.95 Kliek op die foto om te bestel of aanlyn te kyk.
R99.95 Kliek op die foto om te bestel of aanlyn te kyk.


POSGELD
Posgeld is R55 per pakkie. Tot 5 DVD's kan in een pakkie pas.
Wanneer u bestel vanaf 'n hoofsentrum, en u verkies om NIE van 'n koerier gebruik te maak nie, stuur asseblief net 'n epos in die verband nadat u bestel het.
Ons gebruik PEP Stores se koerierdienste vir die platteland of die poskantoor indien u dit verkies.
Die New Thought Beweging
Kerugma Produksies het sy ontstaan te danke aan die reeks DVD’s wat ons in 1995 begin maak het oor “Die Toronto ‘Herlewing’ – ‘n Kritiese Evaluering”. In hierdie reeks wys ons hoe die grond in die Christelike wêreld voorberei was sodat die Toronto “Herlewing” destyds so effektief deur die kerke kon versprei. Sedertdien is dit natuurlik steeds besig om verder te versprei. Deel van die dinamika agter hierdie verskynsel is die basis wat gelê was deur die invloed van die kultiese New Thought Beweging wat ten gronslag van die Word of Faith Beweging lê, wat, soos ons in die Toronto reeks wys, deur ‘n ekumeniese kompromis wat aangegaan was, deel van die Christendom geword het. Vandaar dat dit vandag steeds al hoe meer die lewens en denke van Christene oral in kerke deursuur. In die DVD “FAITH” behandel Dave Hunt die New Thought Beweging breedvoerig. Ons kom netnou by meer daaroor uit, maar dit is waarom die boodskap van “FAITH” vandag amper meer relevant is as toe Dave Hunt dit destyds gepreek het.

Kerugma Produksies word voorgestel aan Dave Hunt
Kerugma Produksies is ‘n geloofsonderneming waar ons afhanklik is van die Here se voorsiening deur sy kinders vir alles wat nodig is. So het die Here destyds op ‘n wonderbaarlike wyse voorsien dat ons een van die eerste uitsaaigehalte diditale kameras wat vrygestel was, kon aankoop. Kort daarna het iemand vir ons genoem dat die bekende Amerikaanse Christen skrywer, Dave Hunt, Suid-Afrika gaan besoek. Aangesien ons destyds in Kaapstad woonagtig was het ek toe vir Dave Hunt per e-pos gevra of dit moontlik sou wees dat ons die dienste wat hy in Kaapstad sou lewer, kon afneem. In reaksie daarop het hy my genooi om al sy dienste af te neem. Hy sou gedurende Julie tot Augustus 1999 ‘n reeks dienste aanbied van Bulawayo in Zimbabwe tot Johannesburg, Welkom, Pietermaritsburg, Durban en kuslangs af tot by Port Elizabeth en dan Kaapstad. Daarna sou die reeks afsluit met ‘n diens te Pretoria.

Ek was aangenaam verras en baie dankbaar vir sy goedgunstigheid. Min internasionale sprekers laat iemand wat heel onbekend aan hulle is, toe om video’s van hulle boodskappe te maak. Ek het egter gou besef dat dit menslik gesproke nie vir my moontlik sou wees om al sy dienste te verfilm nie. Net die DVCAM kassette waarop die kamera afgeneem het sou vir al daardie dienste al ‘n klein fortuintjie gekos het. Wat nog om te praat van al die vliegkaartjies, verblyf en ander vervoerkoste?

Teen die tyd dat Dave Hunt sou kom moes ek egter Johannesburg toe gaan om die bekendstelling van ‘n nuwe redigeerstasie by te woon. Dit sou min help om al die dienste af te neem, as ‘n mens dit nie kon redigeer nie. Dit was aan die heel begin van die digitale era. Op daardie stadium was daar nog net een redigeerstasie in die wêreld wat die DVCAM beeldmateriaal van die kamera kon redigeer. Die redigeerstasie was egter baie duur. Die maatskappy wat dit in Suid-Afrika bemark het, het egter op die stadium laat weet dat daar toe ook ‘n ander redigeerstasie vrygestel is wat minder as die helfte van daardie een kos. Die Here het deur ‘n wonderlike donasie van een van sy kinders voorsien dat ons vir die finansiering daarvan kon aansoek doen. So kon ons reël dat dit sou saamval met die dienste van Dave Hunt te Johannesburg. Die persoon wat na die dienste te Johannesburg vir Dave en Ruth Hunt Welkom toe sou neem, het aangebied dat ek met hulle kon saamry. So het die Here vir ons vooruitgetrek sodat ek toe boonop ook die dienste daar kon afneem.

Gedurende die saamryery het ek die voorreg gehad om Dave en Ruth beter te leer ken. Voor sy aftrede was hy ‘n geoktroieerde rekenmeester van beroep. Deur die jare het hy gedurende sy vakansies gereeld meegedoen aan uitreike onder studente op universiteit kampusse. Later, tydens ‘n hele paar jaar verblyf in Parys, Frankryk, het hulle onder andere saam met Broer Andrew se bediening, Geopende Deure, Bybels na die vervolgde Christene agter die ystergordyn gesmokkel. So het hulle as Christene elke moontlike geleentheid aangegryp om die evangelie uit te dra. Dit was vir hom maar net normaal dat ‘n Christen iemand is wat altyd besig is om Jesus se opdrag in Mattheus 28:19 uit te voer. Met verwysing na sy ouerhuis het hy onder andere vertel hoedat sy pa tweemaal elke dag huisgodsdiens gehou het. Toe ek vra na die baie geestelike boeke wat hy geskryf het, het hy genoem dat hy vir die eerste keer op die ouderdom van 40 self eers in ‘n Christelike boekwinkel gekom het. Alhoewel hy vroeër al geskryf het, was dit eers na sy aftrede dat hy dit regtig begin doen het. Nie omdat hy graag boeke wou skryf nie, maar omdat daar kwessies in die Kerk was wat hy ervaar het dat die Here op sy hart gelê het om aan te spreek. Vandaar die boek wat hom eintlik bekend gemaak het, naamlik “Seduction of Christianity.” Na aanleiding van sy boeke is hy dan gevra om by kerke, konferensies en ander plekke wêreldwyd op te tree.

Hy het ook vertel dat Dr. Andrew Murray sy mees geliefde skrywer is. Op ‘n stadium in sy lewe het hy ernstig begin soek na hoe die Heilige Gees in ‘n kind van die Here se lewe werk. Dit het hom onder andere gelei tot die lees van die werke van die Sestiende Eeuse skrywer, William Law. Dit wat hy daarin gekry het wou hy graag met andere deel. Die probleem was egter dat die ou Engels asook die wyse waarop William Law geskryf het, heel ontoeganklik was vir die moderne leser. Daarom het hy dit as’t ware hervertaal en in 1967 uitgegee as “The Power of the Spirit” by William Law, Edited by Dave Hunt (Christian Literature Crusade). Hy ontdek toe egter dat die Suid-Afrikaanse skrywer, Andrew Murray, reeds in 1896 presies dieselfde met dieselfde boek van William Law gedoen het. So kom hy toe op die boek af: “The Power of the Spirit” Selections from the Writings of William Law. Edited by Andrew Murray (Bethany Fellowship, Inc). Die twee boeke was basies identies. Dit het natuurlik daartoe gelei dat hy baie meer van Dr. Andrew Murray se werke begin lees het.

My persoonlike indruk van Dave Hunt was dat hy naas Richard Wurmbrand sekerlik die nederigste mens is wat ek al teegekom het. Toe ek hom vra of ek nie sy getuienis van hoe hy die Here Jesus leer ken het kon afneem om by sy boodskap op een van die DVD’s te kon insluit nie, het hy stil geraak. Hy het net gesê dit moet asseblief nooit oor hom of sy ervaring gaan nie, maar oor die Here Jesus. Hy het die geleentheid van die hand gewys deur te sê dat ons liewer oor die Here Jesus moet praat en nie oor hom nie. Mense moet deur dit wat hy sê na die Here Jesus getrek word en nie na hom nie.

Na die dienste te Welkom verfilm is, is ek terug Kaap toe om daar te wag tot hulle daar sou aankom na sy optredes kus langs af Kaap toe. Later toe ons weer in die Kaap ontmoet het hy my vertel van ‘n besonderse diens wat hulle intussen langs die kus gehad het. Hy het gesê dat as daar ’n diens was wat ek moes afgeneem het, dan was dit daardie een. Gedurende die tyd in die Kaap het hy sowel as sy vrou meer male na daardie besondere diens verwys en elke keer gesê hulle wens so dat daardie diens op video kon wees.
Gedurende die dienste in die Kaap het ek die geleenheid gehad om Marina en ons drie kinders aan die Hunts voor te stel. By die geleentheid het Ruth Hunt my gevra of ek saam opgaan Pretoria toe om Dave se afsluitingsdiens af te neem. Ek het toe aan haar verduidelik dat ek dit baie graag sou wou doen, maar finansieel gesproke sal dit ongelukkig nie moontlik wees nie. Sy het my daarna weer spesifiek gevra om dit tog te oorweeg om te gaan. Dit was ‘n groot verleentheid vir my, en alhoewel ek baie graag wou gaan, was daar net geen manier waarop ek dit kon bekostig nie. Moes ek dan aan haar verduidelik dat ek geen salaris, pensioen of enige ander inkomste het nie? Is dit dan nie genoeg as ek maar net sê dat ons as gesin in die geloof leef en dat die Here nie daarvoor voorsien het nie? Ek en Marina het natuurlik baie daaroor gebid, tog was dit net nie moontlik nie en ons moes dit so aanvaar.

Iemand wat daardie diens bygewoon het, het my daarna gebel om vir my te vertel hoe ‘n wonderlike geleentheid dit was. Die persoon het gesê: “Jy moes hier gewees het om dit af te neem!” Tot vandag toe wens ek dat ek dit kon doen om dit deel van die Dave Hunt reeks DVD’s te maak. Dit voel soos ‘n geleentheid wat vir ewig verlore is.

So is daar baie dinge wat ‘n mens nie verstaan nie. Daar is soveel geleenthede soos die wat ons al gewens het dat ons kon afneem, maar wat ons net nie kon doen nie. Daar is nou ook byvoorbeeld verskillende argeologiese toere in Bybellande waar ons nog nooit was nie wat ons bitter graag sal wil afneem vir so baie ander om te sien. Is dit vir ons onmoontlik omdat die Here nie wil hê dat ons dit moet doen nie, of is daar ‘n ander rede dat ons nie die geld daarvoor het nie? Eendag wanneer ons by die Here kom sal ons weet. Op die stadium is dit genoeg vir ons om te weet dat ons lewens en so ook ons finansies in sy hande is. Dit is vir ons om maar net elke dag te doen soos Hy lei en voorsien.

Daarom is dit so dat daar verskillende projekte is waaraan ons al deur die jare aan begin werk het, wat steeds onafgehandel bly weens die tekort aan die nodige finansies.

WAAROM WORD HIERDIE DAVE HUNT DVD’S DAN NOU EERS VRYGESTEL?
Kort na Dave en Ruth Hunt se vertrek Pretoria toe is die redigeerstasie afgelewer. Ek het natuurlik dadelik begin werk aan die eerste video. Van die begin af was daar egter ‘n eienaardige probleem. Kort kort het daar helder gekleurde digitale blokkies op die skerm vertoon. Wanneer die video klaar was en die meester op die DVCAM band moes uitloop, het hierdie blokkies op sommige plekke die beeld heeltemal belemmer. As ‘n mens dit weer ‘n keer op ‘n ander band opneem, was die blokkies weer op ander plekke. Die redigeerstasie is later op Johannesburg toe vir toetse waarna hulle dit terug gestuur het met die versekering dat die probleem opgelos was. Dit was egter nog presies dieselfde. Na baie gesukkel het ekself later met die redigeerstasie en al Johannesburg toe gery. Die probleem kon egter nie opgelos word nie. So het dit vir ‘n jaar aangegaan. ‘n Jaar waarin ek geen video kon vrystel nie. Op die ou end het hulle ‘n demonstrasiemodel van die eintlike redigeerstasie wat DVCAM kon redigeer tydelik vir my gestuur om te toets. Na die hele proses om dit te leer werk, kon ek toe een video na die ander vrystel. Daarop het die maatskappy te Johannesburg my tegemoet probeer kom deur aan te bied om die volle prys van die die aanvanklike stasie van die prys van die nuwe een af te trek as ek dit sou neem. Dit was ‘n aanloklike aanbod en ‘n duidelike oplossing vir die probleem, maar dit sou meer as dubbeld kos van wat die oorspronklik een gekos het. Ons het natuurlik baie daaroor gebid en die Here het op die ou end wondelik onderneem deur in die hart van een van sy kinders te werk om ‘n groot deel van hiedie bedrag vir Kerugma te gee.
 
Die feit is egter dat hierdie probleem ons redigeerwerk vir meer as ‘n jaar vertraag het. Dit het gemaak dat ons agter geraak het en net nog nooit weer kon inhaal nie. U sien, intussen het die afneem en die redigering van byvoorbeeld die Parlement van Wêreldgodsdienste in Desember 1999 gekom asook baie ander projekte en voor ons ons oë kon uitvee het ons eintlike werk begin, naamlik die afneem en redigering van die Exploring The Lands Of The Bible reeks wat vandag steeds voluit voortgaan.

DAVE HUNT SE DVD “FAITH”
Een van die projekte wat na al die jare nog nie afgehandel is nie is juis die genoemde reeks oor die Toronto “Herlewing”. Die belangrikste volume in die reeks, naamlik Volume 8, moet nog gemaak word. Deur die jare bid ons nog altyd vir die nodige fondse om dit te kan doen. Dit is ‘n baie belangrike Volume, waarsonder die vorige sewe volumes nie regtig in perspektief verstaan kan word nie. Saam daarmee moet die boek oor hoe die doop en vervulling met die Heilige Gees in die lig van die Toronto “Blessing” fenomeen verstaan moet word, vrygestel word. Beide die boek en die drie ure lange DVD gaan ‘n lang tyd neem om te voltooi. Tyd waarvoor beplan moet word, maar wat eers kan gebeur as ons weet dat ons die nodige fondse het om so ‘n tyd onverpoos daaraan te kan werk.
 
Sedert die Toronto Reeks begin versprei het, was daar heelwat wat gevra het of dit dan nie ook in Engels beskikbaar gemaak kan word nie. Wel, soos gesê handel die DVD van Dave Hunt, “FAITH”, volledig oor die New Thought Beweging en die invloed wat dit byvoorbeeld het op die wyse waarop baie Christene vandag dink en praat sonder dat hulle eens bewus is van die inwerking van hierdie kultiese leringe op hul lewens. Vandaar byvoorbeeld die vrees om te onderskei dat iemand verkeerd is, dwaal of sondig of om iemand tereg te wys, te bestraf of te vermaan, want hulle vrees dat hulle dalk “negatief” mag praat.
 
Hulle glo ‘n mens moet net sogenaamd “positief” of “op” praat, want hulle glo die leuen dat “lewe en dood” in die mag van die tong lê. Is dit wat die Bybel leer? Jakobus 3:1-12 is baie duidelik oor hoe die Christen moet leer om sy tong te beteuel. Ons mag nie kwaadpraat nie. Tog moet ons weet om mekaar te betug. Een van die dwalinge wat die kerk vandag deursuur is dat ‘n Christen ‘n klein “godjie” is wat soos God die Skepper oor skeppingmag beskik wat hy uitoefen deur die woorde van sy mond. Soos God gesê het: “Laat daar lig wees”, net so kan die Christen sogenaamd “dood of lewe spreek”. So lewe baie Christene vandag in vrees dat hulle woorde buitengewone kragte het, soos die van toordokters.
 
Net soos aardaanbidders vir wie bome en stoele nie meer bome en stoele is nie maar goed wat hulle bedreig en met hulle praat, so is niks meer normaal vir hierdie super “godjies” nie. Hulle kan nie meer soos normale mense ‘n uitdrukking gebruik soos: “Ek is nou regtig doodmoeg” nie. As hulle dit gesê het, glo hulle hulle het nou die “dood” oor hulself gespreek en hulle woorde het giftige trefkrag.
 
As dit waar was dat die mens as beelddraer van God gelyk is aan God met sy skeppingsmag, dan gaan hy homself mos nou nie dood spreek nie. Waar het God al ooit so iets gedoen?

Die feit is dat die mens nie God of ‘n klein “godjie” is nie. Kry gerus Dave Hunt se DVD “FAITH” om meer te leer oor die oorsprong van hierdie leuens waarin so baie kinders van die Here vasgevang is. Doen uself daarmee saam gerus ook die guns om die voormalige Word of Faith pastoor, Bill Randles, se getuienis DVD “Truth Versus Mystical Experiences” te kry. U sal baie baat vind by hierdie besonderse getuienis.

Die rede waarom ek dit alles vir u skryf is maar net om te verduidelik waarom ons nou eers na al die jare daarby kon kom om die laaste van die 12 DVD’s van Dave Hunt vry te stel en om vir u aan te moedig om dit beslis te kry asook om dit vir andere te gee.

Die Here Jesus seën u,

Naas le Roux

DONASIE
Indien u graag hierdie bediening finansieel wil ondersteun, kliek hier om dit aanlyn te doen. Van een ding kan u seker wees, en dit is dat elke sent wat u hier gee, gebruik word tot die uitbreiding van die koninkryk van die Here. Ons vertrou dat die Here u sal seën waar u ons ondersteun om Hom meer effektief te dien. Vir alle bestellings, besoek gerus ons webtuiste by www.kerugma.org. 



 
Copyright © 2019 Kerugma Productions, All rights reserved.


Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.

Email Marketing Powered by Mailchimp