Daar is nét 13 000 sederbome (Widdringtonia wallichii) in die Cederberge oor. Dis tyd dat ons iets dóén! Gelukkig ís daar mense wat reeds iets doen. Die AirSeed Seder Projek lyk belowend, reken botaniste. Dié projek behels die strooi van spesiaal geformuleerde saadkapsules, met sedersade ("seedpods") daarin, deur 'n reuse 6-skroef hommeltuig in sekere blokke waar sederbome aard en dus sal kan oorleef.
"Tegnologie kan doen wat mense nie kan doen nie," sê Dawie Burger van Driehoek, wat vir ons die projek verduidelik. Dawie kan as 'n jongerige "vader van die sederbome" beskou word, want hy het die projek inisieer. Dit is egter gou duidelik dat hy geen erkenning soek nie - dit gaan vir hom nét oor die resultate van die projek. Dawie, David Nieuwoudt van Cederberg Wyne, Andries Louw, Andrew Walker en Michiel de Kock van AirSeed en lede van die Conservancy, is van die manne wat koppe bymekaar sit om die projek van die grond af te kry.
'n Studie word tans van stapel gestuur om behoorlik agter die kap van die byl te kom deur proewe te doen op Dwarsrivier. Daar moet, onder andere, uitgevind word wanneer is die beste tyd om te plant, asook waar die "pods" gestrooi moet word. Dit is nie 'n projek wat oornag afgehandel kan word nie, want dit verg baie strategiese beplanning. Die projek gaan 15 jaar neem om te voltooi.
Oorsee is daar al heelwat van hierdie tipe projekte geloods, maar hierdie projek is 'n eerste vir Suid-Afrika. Binne die volgende paar maande sal die hommeltuie die eerste "pods" plant. Ons sien uit na daardie dag, want ons kan nie ophou om die sederbome te probeer red nie!
Hommeltuigfoto's verskaf deur AirSeed.
Foto krediet: Alicia Erasmus
#savetheceder #widdringtoniawallichii #cederberg #cederbergmountains #cederbergwilderness #airseed #conservation
Cederberg ClickClick - Facebook
|