Copy

September 2022 Nuusbrief

 

Welkom by nog 'n Khothatsong Nuusbrief!


Baie dinge het gebeur sedert ons laaste nuusbrief einde verlede jaar. Gelukkige en opwindende dinge; ook hartseer dinge. Sommige pasiënte het hul krag herwin en (grotendeels) herstel; ander is oorlede. Daar was ook siekte onder personeel en die dood van 'n voormalige personeellid. Ons gemeenskapstuin het goed gegroei, ten spyte daarvan dat dit 'n paar keer deur bokke vernietig is. Hierin word ons herinner aan die woorde van Spreuke 16:9
 
“Die hart van die mens beplan sy weg, maar die HERE bevestig sy voetstappe.”
 
Soos die spreekwoord sê: ons wik maar God beskik. Ons taak is om Hom te dien met alles wat ons het en ons naaste lief te hê soos onsself. Al maak ons soveel planne, God is in beheer.
 
In hierdie nuusbrief sal ons oor die gebeure by ons F4-kantoor vertel, dit wil sê oor die versorging van ons pasiënte en ons gemeenskapstuin. In die volgende nuusbrief sal ons oor Pleegsorg en Bewusmaking vertel. Wat laasgenoemde betref, bid asseblief vir ons volgende bewusmakingsgeleentheid wat dv 24 September plaasvind. Bid dat die jongmense mag kom en dat hulle aan hul Skepper sal dink in die dae van hulle jonkheid (Prediker 12:1).

Pasiënte


Een van die pasiënte het altyd sy medikasie getrou gebruik, of so het hy gesê. Toe hy aan Covid-19 oorlede is en sy familie sy kamer kom skoonmaak, het hulle sakke en sakke vol anti-retrovirale medikasie ontdek. Hy het blykbaar elke maand sy medikasie by die kliniek gaan haal, maar het dit nooit gebruik nie! In die hoop om te verhoed dat 'n ander pasiënt dieselfde ding doen, gaan ons dames nou die datums op die medikasiepakkies na en tel die pille om te sien dat dit reg gebruik word.
Ons het 'n jong pasiënt van twaalf wat ernstige diabetes het. Die hospitaal het 'n spesiale dieet vir haar voorgeskryf om te gebruik om stabiele glukosevlakke te handhaaf. Khothatsong het die verskillende aanbevole kosse gekoop en aan die ouma verduidelik hoe om dit voor te berei en wanneer die meisie dit moet eet. Gedurende die skoolkwartaal woon sy by haar ouma. Tydens skoolvakansies kuier sy egter by haar ma. Ongelukkig verstaan die ma nie haar dogter se siekte nie en koop vir haar kitskos en ander kosse wat nie geskik is vir diabetes nie. Dit het ongelukkig 'n paar keer daartoe gelei dat die meisie twee tot drie weke in die hospitaal deurgebring het om haar glukosevlakke te stabiliseer. Ons het die ouma gevra om die inligting van die meisie se dieet saam te stuur wanneer sy haar ma besoek. Maar dit lyk nie of dit gehelp het nie. Ons wil nou een van ons versorgers stuur om die ma te besoek en die meisie se toestand en dieetbehoeftes behoorlik te verduidelik.
Een van ons pasiënte het tydens haar swangerskap verlam geraak weens TB. Sy het geboorte gegee aan 'n gesonde baba, maar dit is nie maklik om 'n ouer te wees as jy verlam is nie. Gelukkig sorg haar familie en kêrel goed vir haar. Sy is egter vasbeslote om beter te word en doen getrou die oefeninge wat sy van die fisioterapeut by die hospitaal ontvang het. Sy begin nou stadig haar eerste treë gee.
 
Op hierdie foto word haar baba deur 'n Nederlandse besoeker vasgehou.

Gogo Ondersteuningsgroep


Ons Gogo (Ouma) Ondersteuningsgroep het uiteindelik in Februarie hervat. By die eerste ontmoeting was daar net vier vroue. Ná die vergadering het hulle hul ou ondersteuningsgroep vriende gekontak en vanaf die tweede ontmoeting het daar tussen sewe en twaalf vroue bygewoon. Hulle begin die oggend met 'n koppie koffie of tee en 'n toebroodjie. Die versorgers meet hul bloeddruk en hartklop, en gesondheidskwessies word bespreek. As 'n probleem ernstig lyk, word die Gogo na die kliniek verwys. Die dames geniet dit vreeslik om weer bymekaar te kom na twee jaar van isolasie. Hulle spandeer die res van die oggend om saam te brei, naaldwerk te doen en te kuier. Diegene wat die krag en energie het, werk ook in die Tswaranang-gemeenskapstuin sodra die ondersteuningsgroep byeenkoms geëindig het.

Verpleegpersoneel


Die personeel gee steeds ekstra aandag aan die korrekte gebruik van persoonlike beskermende toerusting. 'n Paar van ons pasiënte is oorlede van Covid-19 en ander was siek. Om hulself en ons pasiënte te beskerm, is al ons personeel ingeënt en het ook hul “booster shots” ontvang.

Rinske Pouwels, ’n fisioterapeut, het ’n werkswinkel oor basiese oefeninge vir beroerte en verlamde pasiënte aangebied. Wanneer sy 'n oefening gedemonstreer het, moes die versorgers dit op mekaar oefen. Sommige van die "pasiënte" was nogal hardkoppig en het hul kollegas 'n moeilike tyd besorg! Dit was 'n baie leersame oggend. Die dames het nogal gesweet aangesien dit 'n goeie oefensessie was!
 
Andrina Tladi, die tuisversorging bestuurder, tree einde September 2022 af. Die bestuur het besluit om haar met 'n stafverpleegster te vervang sodat daar 'n personeellid met 'n hoër onderwysvlak sal wees. So 'n persoon moet ook die plaaslike taal kan praat, wat kommunikasie met pasiënte sal verbeter (inligting gaan maklik verlore in vertaling). Weens die siekte van ons bestuurder, Christien, het ons nog nie iemand aangestel nie. Andrina het egter goedgunstiglik ingestem om tot die einde van die jaar aan te hou werk sodat sy behoorlik die leisels kan oorgee.

Covid-19 Voedselpakkette


Van Mei 2020 tot Februarie 2022 het Khothatsong meer as 250 kospakkies aan pasiënte en hul gesinne afgelewer, met behulp van spesiale befondsing wat van die Canadian Reformed World Relief Foundation en individuele skenkers ontvang is. Pasiënte was altyd baie dankbaar vir die kospakkies. Aangesien dit egter nie 'n volhoubare projek is nie, het ons nou 'n gemeenskapstuin begin met die finansiële ondersteuning van De Verre Naasten en Pharos.
 

Daar is nog 'n bietjie geld oor van die Covid-19 Kospakkie-projek. Dié geld sal aangewend word vir gesinne wat steeds in nood verkeer. Daar sal egter van hulle verwag word om in die gemeenskapstuin te werk om ekstra kos te ontvang.

Tswaranang Gemeenskapstuin


Die vestiging van die Tswaranang-gemeenskapstuin het groot opgewondenheid in die gemeenskap veroorsaak. Verskeie ons pasiënte en/of hul familielede werk in die tuin. Baie beddings is geskep, groente geplant, versorg en geoes.
 
Diegene wat in die tuin werk, ontvang groente. Ander groente word vir die kospakkies gebruik. Dit help om die finansiering te rek, aangesien groente die afgelope jaar baie duur geword het.

Daar was 'n paar terugslae, veral in die vorm van indringerdiere. Eers was daar hoenders en honde, wat 'n paar heiningaanpassings vereis het. Maar dan was daar 'n buurman wat die heining geknip het om sy bokke ons groente te laat geniet/vernietig. Na 'n paar besprekings met die buurman lyk dit of die geskil opgelos is en die tuin is nou al 'n paar maande indringervry.
 
Die amptelike opening is op 8 Maart gehou en is deur die plaaslike raadslid sowel as pasiënte en hul gesinne bygewoon.

Geestelike Sorg


Ons evangelis, Pastoor John besoek die pasiënte getrou. Die afgelope tyd moes hy 'n paar pasiënte geestelik voorberei vir hul naderende dood. Om hierdie tipe geestelike berading te verskaf is nooit 'n maklike taak nie. Hy kon egter die troos uit die evangelie bring dat ons nooit alleen is nie. Vir diegene wat glo, is dit nie nodig om die dood te vrees nie. Jesus lei en dra ons deur die dal van doodskaduwee tot Sy ewige heerlikheid.

Gebedspunte

  • Ons is dankbaar dat God ons personeel gedurende die afgelope jaar beskerm het en dat Hy hulle veilig gehou het in die aangesig van geweld en gesond gehou het tydens die Covid-19 pandemie
  • Hou asseblief aan om vir die personeel te bid dat hulle gevul mag wees met liefde vir God en hul pasiënte en dat hulle hul werk met oorgawe sal doen
  • Bid vir genesing vir ons pasiënte, maar bowenal dat hulle God as hul Verlosser mag ken
  • Bid vir die Tswaranang Gemeenskapstuinprojek en dat die gemeenskap dit werklik as hul projek mag sien en eienaarskap daarvan sal neem
  • Bid vir Pastoor John dat hy gevul mag wees met liefde en wysheid om die evangelie aan mense in nood te verduidelik
  • Bid dat God Pastoor John se bediening sal seën sodat mense hul vertroue in God kan stel
  • Bid vir die jeugbewusmakingsgeleentheid op 24 September

Baie Dankie!


Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning wat ons steeds ontvang. Dankie vir jul gebede. Dankie ook aan diegene wat ons finansieel ondersteun. Ons wil veral die gemeentes bedank wat vir ons kollekte gehou het. Ook die Pretoria Vrye Gereformeerde Kerk wat die salaris van pastoor John borg. Ons waardeer dit opreg!

Bly op Hoogte


Volg ons op Facebook of stuur 'n epos na info@khothatsong.org.zaAs jy nog nie op ons nuusbrief ingeteken is nie, kan jy dit hier doen.

Jy kan ook webwerf besoek om meer te lees oor die werk wat ons doen: khothatsong.org.za.

Oorweeg dit asseblief om ons finansieel te ondersteun

Rekening Naam: Khothatsong Association
Rekening Nr: 2634051794
Bank: Nedbank
Takkode: 198765
Rekening Soort: spaar
Swiftkode (BIC): NEDSZAJJ

Rekening Naam: Khothatsong Foster Care
Rekening Nr: 2603162640
Bank: Nedbank
Takkode: 198765
Rekening Soort: spaar
Swiftkode (BIC): NEDSZAJJ
LET WEL: Khothatsong is 'n geregistreerde "Openbare Liefdadigheidsorganisasie" (PBO 93/0026898) en skenkings in Suid-Afrika is belastingaftrekbaar
Facebook
Website
Email
Copyright © 2022 Khothatsong Association, All rights reserved.


Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.

Email Marketing Powered by Mailchimp