Copy

Nuusbrief Desember 2020 Deel 2

“Die volk wat in duisternis wandel, het ʼn groot lig gesien …” (Jesaja 9:1).


Soos Kersfees naderkom, mag ons onthou dat God sy Seun gestuur het om sy Lig na ʼn verlore, donker wêreld te bring. Daardie Lig is die enigste ware hoop vir ʼn wêreld wat gebuk gaan onder Covid-19 en VIGS-pandemies.
 
Verlede keer het ons vertel hoe die Here Khothatsong se werk geseën het deur ons pleegfamilie veilig te hou en in hul behoeftes te voorsien, en ons het ʼn bietjie nuus gedeel oor die beplande herstrukturering van die Bewusmakingsprogram. Hierdie keer handel die nuusbrief oor Tuissorg en die kospakkieprojek. Ons begin met die tweede.

Kospakkies

Vroeër hierdie jaar het ons ʼn kospakkieprojek geloods in reaksie op Covid-19, die streng vlak 5-inperking wat opgelê is en die ekonomiese gevolge daarvan in die gemeenskappe waar die Tuissorgspan werk. In baie arm huishoudings wat reeds afhanklik is van regeringstoelaes en/of die oorbetalings van familielede wat elders werk, het die daaglikse stryd om kos op die tafel te sit selfs moeiliker geword. Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning wat ons ontvang het van Canadian Reformed World Relief Fund (CRWRF) en ʼn aantal privaatskenkers. Dit het ons in staat gestel om die mees behoeftige huishoudings by te staan. Die ontvangers van die kospakkies is die Tuissorgspan se pasiënte en hul families. Een begunstigde het onlangs verklaar: “Die Here is my herder!”
 
Op die oomblik bly Suid-Afrika op vlak 1-inperking, wat die ekonomie toegelaat het om terug te keer na ʼn tipe “nuwe normaal”, terwyl die rimpeleffek van die coronavirus steeds gevoel kan word. Dit is moeilik om te voorspel hoe dinge in 2021 gaan ontwikkel. Ons gaan in die nuwe jaar voort met die kospakkieprojek, biddend om God se leiding en sorg.
Voorraad word afgelaai by die Tuissorgkantoor
Voedsel word gesorteer

Tuissorg

Saam met die kospakkieprojek het die tuissorgwerkers ook voortgegaan met hul gewone werk om die siekes by te staan. Toe Covid-19 en die inperking vir die eerste keer aangebreek het, was ons onseker of en hoe die tuissorgspan moes voortgaan met hul werk. Die weeklikse byeenkomste van die Ondersteuningsgroep is gekanselleer. Die besoeke van huis-tot-huis is ook gestop, omdat baie mense so bang geword het vir “die Corona” dat hul huiwerig was om met die personeel te praat.

Die wonderlike ding is dat, ten spyte van al die vrese, die versorgers nie enige Covid-19-gevalle teengekom het nie. Alhoewel daar gevalle in Soshanguve was, het dit (nog) nie versprei na die areas waar die tuissorgspan werksaam is nie. As gevolg van die inperking en waarskynlik oor die goeie sanitêre praktyke wat aangemoedig is weens Covid-19, was die winterseisoen se verkoues en griep ook baie minder as gewoonlik. Ons dank die Here vir hierdie seën, en dat Hy die werkers veilig gehou het.
Kospakkies word afgelaai
Dankbaar vir iets om te eet
Die laaste tyd het ʼn aantal nuwe pasiënte deel geword van die tuissorgprogram, wat ook gesien word as ʼn terugkeer na die “nuwe normaal”. Ons wil egter vandag twee verhale deel van mans wat reeds ʼn geruime tyd onder die span se sorg is. Hierdie stories gee ʼn idee van die uitdagings wat die versorgers sedert die begin van Covid-19 en die inperking moes oorkom.
 
Richard (skuilnaam) is ʼn 38-jarige man wat in Julie ʼn pasiënt van die tuissorgspan geword het. Toe was Suid-Afrika reeds ʼn aantal maande in inperking, en interprovinsiale reise was steeds streng beperk. Nietemin het Richard dit reggekry om uit Mpumalanga na sy familie terug te keer.

Hy het aangekom met ernstige infeksies in wonde op sy lae rug, boude en bobene. Bekommerd oor sy wonde, het Richard se familie die tuissorgspan genader om hulp. Sedert Covid-19 word dit egter nie toegelaat om iemand te vergesel na ʼn kliniek of hospitaal nie. Al wat die versorgers kan doen, is om die pasiënte hospitaal toe te neem en dan buite vir hulle te wag en te probeer om telefonies met ʼn verpleër of dokter te praat.

In Richard se geval moes ʼn stoma geplaas word om verdere besmetting van sy wonde te voorkom. Die wonde was so besmet dat die dokter die tuisversorgers aangeraai het om warm water met ʼn bietjie Jik te gebruik om dit skoon te maak. Dit het die reuk verbeter en die wonde het stadig begin genees, tot dit duidelik geword het dat Richard se viruslading te hoog was vir die antibiotika wat hy geneem het om effektief te wees. Hy moes toe in die hospitaal opgeneem word om sterker antibiotika te ontvang. Gelukkig kon hy onlangs terugkeer na sy familie om verder aan te sterk.
 
Isaac (skuilnaam) is ʼn man in sy vyftigs wat sedert 2019 tuisversorging ontvang. Daar was al verskeie struikelblokke op sy herstelpad. Sy huislike omgewing is baie uitdagend as gevolg van sy lewensomstandighede en ʼn familie wat nie omgee nie. Hy woon in ʼn hut agter sy broer se huis en moet vir homself kosmaak op ʼn vuur. Hy het verskeie vreemde gewasse aan sy voete en bene.

Dit het onder die versorgers se aandag gekom dat Isaac sy identiteitsdokument verloor het. Sonder hierdie dokument kan ʼn pasiënt steeds ʼn staatskliniek- of hospitaal besoek, maar teen ʼn fooi. Daarsonder kan hy ook nie aansoek doen vir ʼn SASSA-toelae nie. Die versorgers het dus onmiddellik begin om Isaac te help om aansoek te doen vir ʼn nuwe ID. Dit is ʼn proses wat gewoonlik lank duur, maar wat tydens die inperking onmoontlik was weens die sluiting van die Departement van Binnelandse Sake.

Die tuissorgspan kon hom wel by ʼn dermatoloog kry wat ʼn biopsie geneem het van die gewasse. Toe hy uit die hospitaal ontslaan is, was hy baie verward en het gevra hoekom hy slegs aan een van die gewasse geopereer is. Dit het duidelik geword dat Isaac sukkel om te verstaan wat aan hom gekommunikeer word. Terwyl Isaac wag vir opvolgdatums en moontlike bestraling, besoek die versorgers hom gereeld en neem vir hom kospakkies.

Voorbidding gevra

As gevolg van die ekstra spanning wat meegebring is deur Covid-19, moes die Khothatsongbestuur hierdie jaar konflik binne die span hanteer. Ons vra dat u sal bid vir elke lid van die span en die bestuur. Bid asseblief vir eenheid binne die span en vir wedersydse respek.

Ons dank God dat die gebiede waar ons werk bewaar is van ʼn Covid-19-uitbraak, maar die pandemie het steeds op ander maniere ʼn groot impak gehad. Bid asseblief vir die pasiënte en gemeenskappe van F4, F2 en Moshate Village. Bid dat die mense nie hoop sal verloor nie, en dat hulle te midde van hul lyding aan hul Redder sal vashou.

Dankie!

Opregte dank aan die CRWRF van die Canadian and American Reformed Churches, die Verre Naasten, die Zuid-Afrika Mission van die Gereformeerde Kerken vrijgemaakt in Nederland, en die individuele skenkers vir hul volgehoue ondersteuning van Khothatsong se werk. Jul sorg en ondersteuning het ons in hierdie jaar bemoedig. Ons dank die Here vir die gemeenskap van gelowiges regoor die wêreld waarvan ons deel mag wees.
 
“Want die HERE is ʼn grote God, ja, ʼn groot Koning bo al die gode. In wie se hand die diepste plekke van die aarde is …” (Psalm 95:3 - 4a).

Kontak ons

Volg ons op Facebook of stuur 'n epos na khothatsong@gmail.com. As jy nog nie ingeskryf is op ons nuusbrief nie, kan jy dit hier doen.

Maak 'n Donasie

Naam: Khothatsong Association
Rekeningnummer: 2634051794
Bank: Nedbank
Filiaalcode: 198765
Cheque rekening
Swift Code (BIC): NEDSZAJJ

Naam: Khothatsong Foster Care
Rekeningnummer: 2603162640
Bank: Nedbank
Filiaalcode:198765
Spaarrekening
Swift Code (BIC): NEDSZAJJ
Khothatsong is 'n geregistreerde “Public Benefit Organization” (PBO 93/0026898) en donasies in Suid Afrika is belasting-aftrekbaar.
Facebook
Website
Email
Copyright © 2020 Khothatsong Association, All rights reserved.


Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.

Email Marketing Powered by Mailchimp