Copy

Nuusbrief Desember 2023

 

Boodskap van die Bestuur

Aan die einde van die jaar wil ons u bedank vir al u ondersteuning die afgelope jaar – hetsy deur middel van gebede of finansieel. God was goed vir ons die afgelope jaar. Ons kon voortgaan met die werk waartoe Hy ons geroep het, beide in die versorging van ons pasiënte en pleegkinders, sowel as om die sending jeug aan te moedig om in Sy weë te wandel.
 
'n Paar maande gelede het ons 'n nuusbrief uitgestuur waarin die werk in ons tuisversorgings-program uiteengesit is. In hierdie nuusbrief wil ons graag die werk wat in ons pleegsorg- en voorligtingsprogramme gedoen word, uitlig.
 
Spreuke 22:6 sê vir ons:
Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie.
 
Baie Christene, veral ook in die Gereformeerde kringe, was geseënd om in 'n Christelike huis- en kerkgemeenskap gebore te word. Dieselfde kan nie vir ons pleegkinders gesê word nie. Deur God se genade het Hy hulle egter in ons sorg geplaas en ons kan hulle nou in Sy weë lei. Die sendingsjeug het ook nie almal in 'n Christelike huis begin nie en hulle word beslis nie in 'n Christelike omgewing groot nie. Die meeste Suid-Afrikaners noem hulleself sekerlik Christene, maar in werklikheid volg hulle 'n mengsel van tradisionele Afrika- en sekulêre oortuigings en sedes met 'n tikkie Christenskap ingemeng. God wil nie hê dat ons onsself van die wêreld moet verwyder nie, maar Hy roep ons om anders te wees as die wêreld. Bid asseblief saam met ons vir die kinders, jeug en vir hul kerkgemeenskap. Bid ook dat God ons mag gebruik om hulle aan te moedig om heilige afgesonderde lewens te lei.
 
Ons bid u almal 'n Geseënde Kersfees en 2023 toe!

Pleegsorg Nuus

Ons is dankbaar om te kan meedeel dat die hofbevel vir pleegsorg vir drie van ons kinders verleng is tot hulle 18 jaar oud is. Al die kinders het nou 'n langtermyn-pleegsorg bevel, behalwe die jongste kind, wat onlangs 'n twee-jaar verlenging gekry het. Om langtermyn pleegsorg bevele te hê, help om meer stabiliteit te skep en ons is dankbaar hiervoor.
Wiskunde bly maar 'n moeilike vak waarmee ons kinders sukkel. Om daarmee te help, het ons ekstra klasse vir ons drie oudste kinders gereël. Hierdie klasse vind op Saterdae plaas en word deur 'n vrou uit die gemeenskap aangebied. Die resultate is reeds sigbaar!
 
Een van Moeder Thoko se kinders het 'n neuro-ontwikkelingsagterstand sowel as ADHD. Vir laasgenoemde gebruik hy medikasie en het arbeidsterapie ontvang. Hy moet egter in 'n spesiale skool geplaas word. Hiervoor moet psigologiese toetse deur 'n opvoedkundige sielkundige gedoen word, en staatsingestelde sielkundiges is vol bespreek. Om die proses te bespoedig het ons 'n privaat opvoedkundige sielkundige gereël om die toetse te doen. Die resultate het teruggekom en toon dat hy ernstige ontwikkelingsagterstande het benewens gehegtheidsprobleme. Hopelik sal hy aan die begin van 2023 by 'n nuwe skool kan begin. Ons sal ook moet oorweeg hoe om te help met sy gehegtheidskwessies, wat ongelukkig algemeen by pleegkinders voorkom.
 
Ons oudste kinders is nou tieners. Terwyl die tienerjare dikwels 'n moeilike tyd vir beide die tieners en hul ouers is, is dit selfs meer die geval met pleegkinders. Vir hulle is dit moeiliker om hul eie identiteit te ontwikkel terwyl hul biologiese ouers afwesig is. Dit het ongelukkig daartoe gelei dat een van die kinders onvanpaste gedrag by die skool getoon het sodat sy tydelik geskors is. Sy en Moeder Eggy ontvang nou albei terapie van 'n sielkundige.
 
Die pleegmoeders ontvang gereeld besoeke van die maatskaplike werkers van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie. Hulle het nou ook onlangs 'n manlike maatskaplike werker in diens geneem wat daarin gespesialiseer het om met tieners te werk. Hy verskaf ouerleidingsessies vir die moeders. Vanuit die Khothatsong bestuur wil ons ook graag meer geestelike leiding gee. Ons is dus opsoek na 'n wyse ouer vrou van een van die sendingkerke wat hulle gereeld kan besoek.
 
Alhoewel dit tieners nie altyd opgewonde is om kerk toe te gaan nie, geniet hulle dit om die jeugkonferensies by te woon wat deur die kerke gereël word met die ondersteuning van die Khothatsong-voorligtingsprogram. Een van ons ouer meisies is selfs gevra om 'n konferensie met Bybellees en gebed te open.
Om die konferensies by te woon, moet hulle vir hul eie vervoer betaal. Dit beteken dat hulle op een of ander manier fondse moet insamel. Moeder Eggy het bak lesse begin om die kinders te ondersteun in hul fondsinsamelingspogings. Die klasse is baie goed bygewoon, maar tot dusver is geen geld ingesamel nie omdat die produkte weggegee is en nie verkoop is nie.
 

Gebedsversoeke

  • Dank die Here vir moeders Eggy en Thoko, asook hulpma's Violet en Mathapelo, wat die pleegkinders liefhet asof hulle hul eie kinders is.
  • Dank God vir terapeute en dat Hy voldoende fondse voorsien om hulle te betaal.
  • Vra dat die moeders krag en wysheid sal ontvang om hul groeiende kinders te hanteer en te begelei.
  • Bid dat die moeders lewende voorbeelde vir die kinders sal wees en dat die kinders in geloof mag groei.
  • Bid dat ons binnekort 'n wyse vrou sal vind om die pleegmoeders te ondersteun.
  • Bid vir al die kinders terwyl hulle worstel met hegtings- en identiteitskwessies – "Selfs al verlaat my vader en moeder my, die HERE sal my aanneem" (Psalm 27:10).
  • Bid dat 'n geskikte skoolplasing gevind kan word vir die seun met die neuro-ontwikkelingsagterstand.

Voorligting Nuus

U kan dalk onthou dat ons in die vorige nuusbrief gevra het vir gebede vir die voorligtingsdag wat in September gehou is. Die geleentheid is goed bygewoon deur die jeug. Aangesien dit op Erfenisdag was, was die onderwerp God en Voorvaders. Ten spyte van die sekularisering van Suid-Afrika, bly konsultasie met voorouers en die behoefte om hulle te paai 'n daaglikse realiteit. Daar is rituele vir geboorte, huwelik en dood, sowel as vir die hantering van siekte, armoede en geestesgesondheid. Pastoor John (die Geestelike Versorger van ons Tuisgebaseerde Versorgingsprogram) het hierdie onderwerp aangebied en gewys op die demoniese magte wat aan die werk is by die raadpleeg van voorouers.

'n Paar maande tevore, op 16 Junie (Jeugdag) was daar ook ʼn Voorligtingsdag oor geslagsgebaseerde geweld. Dit is ook 'n groot probleem in Suid-Afrika, wat ongelukkig een van die hoogste verkragtingssyfers in die wêreld het. Drie gassprekers is genooi om verskillende perspektiewe te gee – die polisie, 'n predikant en 'n maatskaplike werker. Alhoewel die dag langer geduur het as wat beplan is, was dit 'n pragtige dag waarin baie nuttige inligting gedeel is. Die jeug was betrokke en het goeie vrae gevra.
 
Ons is besig om 'n nuwe Voorligtingskomitee saam te stel wat bestaan uit jeug, ouers en sendelinge om hierdie program vorentoe te neem. Ons doel is om nie net op die jeug te fokus nie, maar om ook hul ouers en gemeentes aan te moedig om hulle te ondersteun in hul wandel met God.
Ons tuisversorgingspan het ook 'n Voorligingsdag op 22 November aangebied. Alhoewel slegs 10 van die 36 pasiënte wat genooi is, teenwoordig was, was die dag 'n groot sukses. Sr Christina Segoe het 'n baie goeie aanbieding gedoen oor suikersiekte – die stille moordenaar. Hierdie dame het dekades lank met suiksiektepasiënte gewerk en het baie kennis van hierdie "stille moordenaar". Die tipe suikersiekte speel 'n rol in hoe hierdie siekte behandel word. Spesiale voeding vir suikersiektepasiënte, oefening, en die drink van voldoende water, kan 'n groot verskil maak. Goeie vrae is na haar aanbieding gevra en sr Christina het die vrae so beantwoord dat almal dit kon verstaan. Sy het ook vir ons gewys hoe om 'n oefening met jou tone (met koerantpapier!) te doen om die bloedsirkulasie in jou voete te verbeter.
 
Minder as 'n kwart van ons suikersiektepasiënte het 'n glukosemonitor by die huis om hul eie suikervlakke na te gaan. Monitering van suikervlakke is noodsaaklik vir suikersiektepasiënte, veral vir die wat insulieninspuitings moet gebruik. As iemand ons kan help om glukosemonitors aan te skaf, laat ons asseblief weet.
 

Gebedsversoeke

  • Bid vir die jeug van die sendinggemeentes – hulle word met baie versoekings en groepsdruk gekontronteer om God en Sy wette te versaak.
  • Bid vir wysheid vir beide die Sendelinge en Khothatsong vrywilligers wat leiding gee aan die jeug.
  • Bid dat die ouers en gemeentes rondom die jeug sal staan en hulle sal ondersteun in hul wandel met God.
  • Bid vir ons suikersiektepasiënte dat hulle en hul gesinne gemotiveerd mag wees om na hul gesondheid om te sien deur die inligting wat hulle geleer het.
  • In die laaste nuusbrief het ons u meegedeel van die meisie met suikersiekte. Ons is hartseer om te moet noem dat sy in 'n koma gegaan het en oorlede is. Bid asseblief vir haar familie en ons personeel terwyl hulle hierdie verlies verwerk.

Bly op Hoogte

Volg ons op Facebook of stuur 'n epos na info@khothatsong.org.za.  As jy nog nie op ons nuusbrief ingeteken is nie, kan jy dit hier doen.

Jy kan ook webwerf besoek om meer te lees oor die werk wat ons doen: khothatsong.org.za.

Oorweeg dit asseblief om ons finansieel te ondersteun

Account Naam: Khothatsong Association
Account Nommer: 2634051794
Bank: Nedbank
Takkode: 198765
Rekening Sort: spaar
Swiftkode (BIC): NEDSZAJJ

Account Naam: Khothatsong Foster Care
Account Nommer: 2603162640
Bank: Nedbank
Takkode: 198765
Rekening Soort: spaar
Swiftkode (BIC): NEDSZAJJ
LET WEL: Khothatsong is 'n geregistreerde "Openbare Liefdadigheidsorganisasie" (PBO 93/0026898) en skenkings in Suid-Afrika is belastingaftrekbaar
Facebook
Website
Email
Copyright © 2023 Khothatsong Association, All rights reserved.


Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.

Email Marketing Powered by Mailchimp