Copy
Hoor djy? Zoe Trust

Donate-a-smile

Mark 10:14-16 "...Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 15 Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie." 16 Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën."

Een spesiale vrydagoggend, twee weke gelede, het ek die voorreg gehad om 'n kind op ons eerste Donate-a-smile uitstappie te vat. Vir die van julle wat die vorige nuusbrief gemis het, Donate-a-smile is 'n projek waar enigeen kan geld gee, wat gebruik word om kinders op uitstappies te vat bv. See toe of fliek toe. Baie van ons kinders kry min kans om die dag tot dag moeilikhede ontsnap, of het nog nooit die voorreg gehad om iets eenvoudig te doen soos in die see te swem nie.

Ek het Abubakker (Bakke vir kort) gevat om te gaan Ice Age 4 kyk. 11-uur die oggend het ek in Heideveld opgedaag. Blykbaar was Bakke al van 10-uur af gereed en aangetrek, opgewonde vir die dag se gebeure. In die mall was Bakke so opgewonde dat hy skoon begin huppel het. Na ons die kaartjies gekoop het, wou hy graag McDonalds eet. Een Happy Meal later en ons is reg vir die fliek. Van toe af vertel hy vir al sy maatjies dat hy "McDonalds gaan kyk het".

Die woorde van Markus 10 het werklik begin lewe kry in my hart daardie dag. Dit was 'n voorreg om die glimlag op die klein seuntjie se gesig te beleef. Ons is dankbaar vir elke donasie aan Donate-a-smile. Ek wil julle aanmoedig om betrokke te raak, geld te skenk vir 'n uitstappie, of nog beter, saam te kom op die uitstappie. Ons leer werklik wat die Koningkryk van die hemel beteken, wanneer ons deur die oë van 'n kind kyk.

~ Karlien du Preez

Meer as waarvoor ons ooit sou kon vra

Hier in Badsberg Close was ons die afgelope maand verskriklik bederf met skenkings vir die kinders. In hierdie koue weer het tannies van oral-oor vir ons truie, serpe en musse gebrei. Ieder en elk wat ons Kid's Club bywoon is uitge'kit' met 'n truitjie, mussie of serpie aan die begin van die koue maand. Ons Monique meisies en van die oumas in die omgewing het ook 'n warm dingetjie gekry. 'n Baie groot dankie aan al die tannies wat moeite gedoen het om ons kinders warm te hou deur hierdie winter. Julle is naby aan ons harte.

Ons volgende groot bederf het gekom in die vorm van om en by 50 gesmeerde brode en sop vanaf Business Connection. Hierdie wonderlike mense het sowat 50 brode se toebroodjies gemaak met allerhande lekker smeergoed op, van jam en peanut butter tot kaassmeer en vis. Dit was so lekker bederf om elke honger magie wat kom klop 'n broodjie aan te bied. Daar was genoeg broodjies om die Dinsdag vir elkeen van die kinders wat na ons 'library' kom 'n bakkie sop en broodjies te gee.

Woensdag was daar vir elke kind in die Kid's Club 'n broodjie vir middagete en ons kon ook 'n hele paar gesmeerde brode by Heideveld Primary gaan aflewer.

Daardie selfde Woensdagoggend kon ons ook uitreik met brood en liefde – Ongesmeerde brood wat ons van 'n 7/11 in De Tyger ontvang het.

'n Week later het bokse vol pasteie hulle opwagting gemaak – en wat is nou lekkerder as 'n varsgebakte pastei op 'n koue middag?

Maak nie saak wat 'n mens het om te gee nie, daar is altyd 'n plekkie waar dit perfek pas in ons gemeenskap. Die Here het regtig ons gebede beantwoord deur ons kinders warm en met vol magies huis toe te stuur in hierdie koue wintermaande. Sy genade voorsien keer op keer meer as wat ons moontlik voor kan vra. Dankie aan elkeen wat help brei, help smeer, help bid, help uitdeel of help drukkies gee het gedurende hierdie tyd. Mag die liefde van die Here ook in jou lewe skyn en die liefde wat jy uitdeel 'n duisend keer na jou toe terugkeer.

~ Karlien du Preez

My week in Heideveld

Lavina, ons dierbare huismoeder het dringend 'n ruskansie nodig gehad, so ons twee het besluit om plekke te ruil. Sy het in die rustige suburbs gaan bly en ek in die minder rustige Badsberg Close in Heideveld. Elke oggend het Edward en nog 'n menigte kom aanklop vir pap en tee. Middagete-tyd was almal honger en ek wens ek het getel hoeveel brode ons per dag opgeëet het. En met aandete het jy geen idee hoeveel honger kinders in jou sitkamer gaan opdaag nie. Soos die kinders meer raak, raak die bredie se sous al hoe langer en die hoeveelheid blikkies-goed wat mens ingooi al hoe meer. Sien, dit was vakansie en kinders wat gewoonlik by die skool iets kry om te eet, was BAIE honger.

Die Maandagaand het ek en Robin (wat dit ook gewaag het om vir 'n paar dae in die Close te gaan bly) besluit om saam met van die kinders huis toe te loop. Let wel, op die Maandagaand het ek geen sober mens langs die pad teëgekom nie. Hulle was of dronk, of gerook of dalk albei.

So wat sal ons sê van die naweek... hoe later hoe kwater.

In die nag klap die skote en die onrustiges loop op en af en op en af. Ja, die Cape Flats in al sy glorie.

Lavina was na die week van rus terug met 'n huppel in haar stap. Ek het sleepvoet gewonder hoe werkende ma's dit regkry om al die balle in die lug te hou en al die kospotte volt e hou – maar ek het myself getroos – min van hulle het 15 kinders vir ontbyt, 20 kinders vir middagete en 30 + vir aandete.

~ Lisa Truter

Kontak ons

 
Zoe Trust
Posbus 910
Parow
7499
Kontaknr: 021 930 8055 / 072 390 7437
 
Email            

Bank Besonderhede

 
Bank: ABSA Bank
Rekening Tipe: Spaarrekening
Rekening Nommer: 9222071195
Takkode: 632005