Copy
Zoe Trust

'n Propvol 2012

Wanneer ek terugkyk oor 2012 wonder ek hoe kon dit gebeur het dat alles so vinnige verbygegaan het. Ons het soveel dinge in Heideveld beleef dat ons seker boeke vol kan skryf, maar soos ek hier sit vlieg daar soete (en suurder) herinneringe deur my gedagtes en ek deel een van die stories met jou.

Ek dink aan die Sondagmiddag wat ek Heideveld ingery het om siekebesoek te gaan doen by een van ons oumas, sy het op sterwe gele. Haar seun is 'n paar maande vantevore doodgeskiet deur die Junky Funky bende. Ek het skaars daar gestop of een van ons engelgesig meisietjies kom klim op my skoot. Ons twee sit toe maar 'n rukkie net so met die kar se deur oop. Toe hoor ons 'n gegil en sien net bloed. Die arme dogtertjie se hartjie begin wild klop, ek sit vir 'n oomblik verstar en spring toe uit die kar. Toe ek die jong man weer sien het hulle sy arm afgebind met 'n lap om die bloed te stop, mense was besig om hom te skop en te slaan en op hom te skree. Sy gryswit gelaat het my laat skrik en ek het tussenbeide getree. Om 'n lang storie kort te maak, niemand wou hom help nie.

Ons het hom hospitaal toe geneem in die klein Nissan bakkie net om te vind dat die noodgevalle afdeling alreeds oorvol was. Die dokters en verpleegsters is gespanne, hulle soek 'n bed vir die jong man, want een van sy hoofare is met 'n mes afgesteek. Sy ma kon nie die vorms invul nie en ek kon help. Haar hart was nog seer oor haar kind wat wat dwelms gebruik en haar aanrand as hy nie sy sin kry nie en dreig om haar met kookwater te gooi as sy nie sorg vir brood in die huis nie, tog was sy daar in sy diepste oomblik van nood. Ek het teruggery en vir die ouma gaan bid. Sy is die maandag oorlede. Nog 'n dag in Heideveld, waarin jy nie gedoen het waarvoor jy eintlik gegaan het nie.

Ons motto van dag-tot-dag het al hoe meer 'plan as you go' geraak en ons moes vrede maak dat ons net soveel kan doen en nie meer nie.

2012 was ook 'n jaar waar die Here vir ons nog werkers gestuur het. Daar is so min of meer 10 van ons (almal vroue), almal met verskillende agtergronde en vermoens. Weereens moes ek leer dat mense wat alreeds seergekry, of swaargekry het in die lewe altyd iets oorhet vir iemand anders. Van ons is geleerd, van ons kan nie eens lees en skryf nie. Van ons het baie geduld, en ander sorg dat dinge ordelik verloop met streng dissipline. Ons is 'n 'dream team' en dit is vir my 'n voorreg om saam met elkeen van hierdie vroue te werk.

In hierdie nuusbrief kan ek onmoontlik alles vertel wat aan die gang is in Heideveld, gaan 'like' gerus ons Zoe Trust Heideveld bladsy op Facebook.

Dankie vir jou ondersteuning in hierdie jaar. Ons voel geliefd.

Groete,
Lisa Truter en die 'dream team'

N.S. Hoe se Forrest Gump? 'Life is like a box of chocolates, you never know what you gonna get.' Badsberg Close is ons box of chocolates.
 


 

Puzzles, karre en ander speelgoed...

Dinsdagmiddae is speel-tyd...biblioteek-tyd...sop eet-tyd en deesdae is dit ook puzzle-bou-tyd. Iemand was gaaf genoeg om vir ons 'n klomp opvoedkundige speelgoed en puzzles geskenk te gee. Ons het gesien dat veral die groter kinders die uitdaging van die puzzles geniet en dat die kleiner kinders ywerig help en so leer hulle hoe om saam te werk - groot en klein. Die kleiner kinders geniet ook die speelgoedkarretjies en poppe. So is daar ietsie vir elkeen, selfs vir die boekwurms.


     

Fiksheid is PRET!


Die kinders het ongelooflik baie energie. Ek weet hulle is net kind en lief vir die lewe en alles wat daar is om te ontdek, maar genugtig.

Ons almal probeer hard om by te hou, maar sonder veel sukses. Die 50c chippies wat hulle stapelvoedsel is help ook nie om van hule hiperaktiwiteit ontslae te raak nie.

Deel van ons program op Dinsdae en Woensdae is 'free play'. Ons hoolah-hoop (of soos die een kleintjie se: 'I want to hoolah-ha'), ons spring tou, ons speel met balle en 'n boontjiesak en die nuutste toevoeging tot die wereld van 'free play' is die mini trampoline!

Van jonk tot oud het dit op die spring-ding gewaag...



Een, twee, drie, vier, vyf...tien, elf, twaalf...twintig! Af! Volgende!
Redelinghuys se mense kom kuier...

Een Woensdagmiddag het ons besoekers uit Redelinghuys (die Sandveld se wereld) ontvang. Hulle het laat weet dat hulle lekker warm musse vir die kinders gebrei het en dat hulle toiletwarepakkies vir die Monique-meisies (ons tienergroepie vir meisies op Dinsdagaande, ouderdomsbeperk 12- 21) en ander mense gemaak het wat hulp nodig het. Met hulle aankoms kon ons sien dat die motor en bakkie kreun onder al die skenkings...en toe ons begin aflaai kon ons nie glo wat ons sien nie...sakke aartappels, sakke lemoene, sakke appels, piesangs, musse, toiletware, klere en wie weet wat nog alles.
Al die kinders was baie fluks om die goedere te help aflaai, selfs die kleintjies het hulle deel gedoen en daarna kon ons ons gaste trakteer op regte egte kerrie van Antie Fia Armien.
Dit was 'n goeie dag. Dankie Redelinghuys se mense.

Monique-groep se kunskompetisie
 
Daar was opgewondenheid in die lug en die skere, gom, plakkers, inkleurpotlode, skerpmakers, 'glitters' en papier het gereed gele. Die Monique-meisies het een uur gehad om met 'n kunswerk vorendag te kom. Na die uur sou die kunswerke ingeneem word, deur 'n onafhanklike beoordeelaar beoordeel word en dan, die volgende week: Prysuitdeling.

Die geskenke was toiletware en allerhande 'luxuries' (lekkers, sjokolades, koeldranke ens.). Die pryswenners was ongelooflik trots om hulle pryse te kon ontvang en elkeen van hulle het op 'n wolkie gesweef vir 'n week. Die Monique meisies se kunskompetisie het ook die Valuable to Jesus Kids Club wat ons op Woensdae het, aangesteek. Die kinders het altesaam 100 kunswerke ingehandig en wag nou om te hoor wie het gewen. Dalk sal ons die hardebaard manne ook kan aansteek om 'n kunskompetisie te he. Wie weet?

 

Wenner
 

Tweede plek

Derde plek
Manne uitstappies
- net vir hardebaarde-

 
Dit was vir baie lank dat ons met ons hande in ons hare gesit het rondom die jong manne wat op die hoeke van die strate rondhang. Hulle dink duistere planne uit, word ingetrek in die wereld van seks, dwelms en bendebedrywighede. Aangesien ons net 'n klomp vroue op die span is, het ons gewonder wat ons moes doen. Hierdie manne het mansfigure in hulle lewe nodig, nie net 'n klomp vroumense nie. Ons gebede is beantwoord in die vorm van twee jong manne wat in Stellenbosch bly. Min of meer eenmaal per week kom haal hulle twee of drie van die jong manne en neem hulle op uitstappies.
Hulle het al Snoekies in Houtbaai en die die Aquarium gaan besoek, by die Eastern Bazaar gaan eet en tenpin bowling gaan speel (want mans hou mos van doen-dinge). Een van die manne se arm was nog seer na 'n koeel hom getref het die week vantevore, maar hy was braaf en het lekker gespeel. Hierdie twee Stellenbossers het ook van die manne aan hulle Christen vriende gaan voorstel en daar word nou op 'n gereelde basis 'n hond uit 'n bos uit gekuier.
Dalk is hierdie uitstappies iets van die normale, dalk is dit net om die manne te laat sien dat die wereld groter is as Heidveld, dalk is dit om hulle laat besef dat hulle 'n doel het op hierdie aarde...wie weet? Ons glo dat elke saadjie wat in hierdie manne se lewens gesaai word, eendag sal groei en vrug dra.

Kersfeestyd is hier!
 

Kersfeestyd vir die kinders van Heideveld beteken twee dinge...'n dag wat maar net gewoon soos elke ander dag verbygaan EN die Kids Club se Kersfeespartytjie. Op 19 en 20 Desember 2012 beoog ons om vir die kinders van die Kids Club wonderlike partytjies te gee. Springkastele, lekker eetgoed, swem, speletjies,'face paint' en nog baie ander wonderlike dinge. Ons wil as deel van hulle geskenke vir hulle skryfbehoeftes en aktiwiteitsboeke gee. Met die geskenke wil ons hulle daaraan herinner dat hulle baie spesiaal is vir Jesus en dat Hy hulle beste vriend wil wees.

As jy op een of ander manier wil deel wees van die partytjies, kontak gerus vir Lisa Truter by 072 390 7437 / 021 930 8055 of lisa@itsamazing.org.za

Kontak ons

 
Zoe Trust
Posbus 910
Parow
7499
Kontaknr: 021 930 8055 / 072 390 7437
 
Email            

Bank Besonderhede

 
Bank: ABSA Bank
Rekening Tipe: Spaarrekening
Rekening Nommer: 9222071195
Takkode: 632005