Copy
Welkom by Mei 2016 uitgawe van die Rooivleis Produsente Organisasie Nuusbrief 
View this email in your browser

Geagte RPO Nuusbrief Intekenaar. Die RPO elektroniese nuusbrief is beskikbaar in beide Afrikaans en Engels beskikbaar.   Ons wil u derhalwe VERSOEK om asb u taalvoorkeur aan ons deur te gee ten einde te verseker dat u die nuusbrief slegs in Afrikaans of Engels ontvang.  U spoedige terugvoering sal opreg waardeer word.  Kliek hier vir u taalvoorkeur

Regulasies oor water-inspuitings gepubliseer

Nuwe regulasies oor die byvoeging van vog/soutwater by pluimveevleis is pas in die Staatskoerant, No 10592 gepubliseer. 
Die nuwe regulasies beperk die persentasie massatoename weens geabsorbeerde vog en ‘n geformuleerde oplossing in ‘n pluimveekarkas tot 10 %. Die persentasie massa-toename weens geabsorbeerde vog en ‘n geformuleerde oplossing in individuele porsies word tot 15 % beperk.
Die wysigings sal ses maande ná publikasie in werking tree, dus op 22 Oktober 2016.

Eerste nuwe entstof in 26 jaar

Die eerste nuwe entstof wat die Landbounavorsingsraad (LNR) sedert 1994 vir vee ontwikkel het, ’n breëspektrum entstof vir hartwater, behoort ná 18 maande goedgekeur te wees sodat Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) dit kommersieel kan vervaardig.
Hartwater is waarskynlik die grootste ekonomies belangrike veesiekte in die land en kos die Suid-Afrikaanse veebedryf, insluitend kommersiële en opkomende boere, jaarliks sowat R220 miljoen. Sub-Sahara-Afrika ly jaarliks R975 miljoen se verliese weens dié siekte wat deur bont- en hartwaterbosluise oorgedra word.  Lees meer ...

Kerk wil help met droogte

Die Sinodale Deputate van Diakonale Sake (SDDS) van die Gereformeerde Kerke het aangebied om betrokke te raak by humanitêre hulpverlening aan boerderygemeenskappe wat gebuk gaan onder die uitwerking van die droogte.
Die SDDS probeer hulp verleen op plaaslike vlak, maar ook internasionaal. Kontak Hannes  Vorster by 082 825 3545 vir meer besonderhede.

Veeboere bly verantwoordelik vir hul diere

Veeboere is ten alle tye verantwoordelik vir die welsyn van hul diere en diere behoort nie die spit af te byt weens swak beplanning nie.
Volgens ‘n persverklaring deur die Dierewelsynskoördineringskomitee behoort boere in hul bestuursprogramme vroegtydig vir droogtes te beplan en aksies in plek te plaas om dit te bestuur.
Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat vee van hongerte moet vrek, veral omdat dit voorkombaar is.  Lees meer ...

Kosskrywer Heleen Meyer, trotse “Lambassadeur” vir Skaapvleis SA !

Heleen Meyer, ‘n bekende in koskringe, is nou ook ‘n trotse "Lambassadeur" vir Skaapvleis SA.
Heleen se passie om ander te inspireer, aan te moedig en te leer dat goeie, gesonde kos ook lekker kan wees, is aansteeklik. Haar resepte is maklik om te maak, vol slim planne met bekende bestanddele en deeglik getoets. Sy deel graag haar interessante idees om kos gesond en lekker te maak. As ’n werkende ma, is haar gesin se gesondheid vir haar belangrik en daarom verstaan sy ander se behoeftes so goed.  Lees meer ...

Afslag op brandstof

Boere moet kennis neem van die feit dat deelnemers in die boerdery-, bosbou- en mynbedrywighede in aanmerking kom vir afslag op brandstof. 
Dit beloop108 sent per liter brandstofheffing van toepaslike aankope, plus 154 sent per litter vir die Ongeluksheffingsfonds van toepaslike aankope, wat dit te staan bring op 262 sent per liter op 80% van die totale toepaslike aankope.

Skaapdag gehou

‘n Skaapdag word op 4 Mei 2016 op die plaas van Nelius van der Westhuizen, die 2015 Nasionale Skaapboer van die Jaar aangebied.
Ten spyte van die ekstensiewe boerdery omgewing slaag hy daarin om ’n versnelde lamstelsel volhoubaar toe te pas. ’n Stelsel van drie kort lamseisoene (teelseisoen is slegs 24 dae) per jaar word gevolg en dit is moontlik om ooie te roteer tussen ’n 8- en ’n 12-maande siklus na gelang van omstandighede.  Lees meer ...

Voorkoming is beter as genesing

As ‘n mens die maandelikse verslae van dieresiekteneigings soos informeel gerapporteer deur veeartse in Suid-Afrika bestudeer, is dit duidelik dat die meeste van die aansteeklike siektes verhoed kon word as diere behoorlik daarteen ingeënt was.
Die doel van die maandelikse dieresiekteverslae is dat boere in samewerking met hul veeartse ‘n dieresiekte-bestuursprogram sal uitwerk met inagneming van die siektes wat aangemeld is. Die program behoort gereeld opgedateer te word soos wat nuwe risiko’s geïdentifiseer word !  Lees meer ...

Ondersteuning vir beesvleispryse

Internasionaal word beesvleispryse ondersteun deur laer aanbiedings van beide Nieu-Seeland en Australië sowel as die stygende eind-verbruiker vraag soos wat die Amerikaanse mark na sy braaiseisoen opbou, volgens ABSA Agri Trends.
Internasionaal
Nieu-Seelandse bulle het in die week van 19 April sywaarts verhandel teen NZ$477 en koeie het sywaarts verhandel teen NZ$303 onderskeidelik vergeleke met die vorige week.  Lees meer ...

Positiwiteit in die skaapmark

Internasionaal is lamsmarkte nou deeglik bewus van die tekort in voorrade wat van die Nieu-Seelandse seisoen verwag word, volgens ABSA Agri Trends.
Tesame met beperkte voorrade van Amerika sal dit positiwiteit in die mark dryf. Plaaslik sal skaapvleispryse na verwagting steeds ondersteun word in Mei, wat in lyn is met seisoenale neigings sowel as die nagevolge van die droogte.  Lees meer ...

Inhoudsopgawe

Laai u elektroniese weergawe van die Rooivleistydskrif hier af 


Veilings in Mei

 

Einde van ‘n era

Die  jarelange verhouding tussen Bayer Suid-Afrika (Edms) Bpk en Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het tot ‘n einde gekom en Bayer versprei en bemark van 1 April 2016 af nie meer OBP se produkte nie.
OBP moet nou direk gekontak word vir navrae oor hul produkte. Bayer bly verbind tot die kern-dieregesondheidbesigheid in Suid-Afrika.

Beste slaghuise aangekondig

Die beste slaghuise op nasionale- en streeksvlak is pas tydens die Cleaver Toekennings aangekondig.
Nominasies het teen die einde van verlede jaar geopen en verbruikers dwarsoor die land het die geleentheid gehad om die beste slaghuis te nomineer. ‘n Rekord getal nominasies van meer as 35 000 is ontvang, wat merkwaardig is as daar in ag geneem word dat 3 500 nominasies ontvang is toe die kompetisie die eerste keer in 2005 geloods is.  Lees meer ...

Kyk uit vir dié slenter

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het boere wat deur die droogte geraak word gewaarsku om bedag te wees op ‘n swendelaar wat die droogtesituasie uitbuit om geld by boere te steel. 
Die betrokke persoon beloof die boer dat die departement ‘n hulpverleningsbedrag van R270 000 aan hom/haar sal uitbetaal, waarvoor die boer in ruil dan R20 000 moet inbetaal.  Lees meer ...

Proewe op entstof begin binnekort

Proewe op die entstof teen snotsiekte sal binnekort afskop, sê dr Peter Oberem van Afrivet.
D
ie virus is plaaslik geïsoleer en sy DNA bepaal. Dié DNA-volgorde is met die enstof isolator vergelyk en daar is gevind dat dit ooreenkom, waarna die eerste permit vir toetse uitgereik is. Ná ‘n oponthoud van vier maande om die ander permitte te bekom, het Afrivet nou die proef-entstof ontvang.
Dr Oberem sê die protokolle is opgestel, goedgekeur en vyf proefgebiede met 100 diere elk is geïdentifiseer, wat beteken dat daar binnekort met die proewe begin sal word.

Perspektief

Neweprodukte as voer vir herkouers.
Dikwels word die vraag gevra of ‘n afvalproduk soos groente-residu as voer gebruik kan word of andersins by ‘n bestaande rantsoen gevoeg kan word. Natuurlik moet ‘n mens seker maak dat die afvalproduk nie toksiese stowwe bevat of verteringssteurnisse sal veroorsaak nie. Indien nie, mag die afvalproduk belowend wees weens die kostefaktor, veral as die boer nie oor baie hulpbronne beskik nie soos in die ontwikkelende sektor.  Lees meer ...

Laai u PMF Nuusbrief hier af 


 Nuutste gebeure in Grassfed
Copyright © 2016 Red Meat Producers Organisation, All rights reserved. 

Ons epos adres is
Posbus 132
Persequor Park
0020


Ons webtuiste is:
www.rpo.co.za
 
Neem asseblief kennis hierdie e-pos is nie gemorspos nie. Dit is ’n nuusbrief van die RPO aan u, die gewaardeerde rooivleisprodusent 
kanselleer intekening | dateer u inligting op